If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Ons lewe op die plaas

Ek, my man en ons drie kinders bly in die Kalahari; eintlik die Molopo.  Bray, of Kirstonia is hoe die grensposdorpie bekend staan.  My man boer vir 'n ander oom en ek is 'n huisvrou en voltydse Mamma.

Elke oggend staan ek vroeg op, maar nie te vroeg nie, ek is baie lief vir my slaap en glad nie 'n oggend mens nie, ... hiehiehie.  Ek drink 'n koffie of twee op wakker te word en dan vat ek my emmertjie en my potjie vaseline en stap kraal toe om my Saanen melkbok te melk.  Ek doen dit elke oggend en elke aand.  Ek kry darm so twee liter melk 'n dag uit 'Ounooi'.  Dit is seker die lekkerste deel van my dag!  Dis so rustig!  Ek probeer om nooit die kinders saam te vat nie, hulle ontstel die bok met hulle skril stemmetjies.  En hulle steur my 'stilte tyd'. ( lol!)  Terwyl ek sit en melk, met die bok se een agterbeen vasgeklem in die waai van my een been, kyk ek rond.  Ek sien goggatjies, bloukopkoggelmandertjies, voëltjies.  Ek geniet die natuur!  Ek is nie eers 10 minute weg nie, maar in daai rukkie herlaai ek lekker!

Terug by die huis maak en vir 'Sussie-baba' (6 maande) tee.  En Ousus (4 jaar) vra dan ook vir koffie.  As Sussie-baba wakker word, sit ek vir haar Carike en Ghoempie op.  Sy is mal oor Tannie Carike!  So verrig ek my pligte deur die dag, met Carike se liedjies in die agtergrond en Ousus wat heeltyd babbel.  Ouboet is in die koshuis.  Ons mis hom vreeslik!  Hy is nou ses en in Gr 1.  Dit breek my hart as hy in die aande bel en huil, sê hy wil nie daar wees nie...

Ek het so 'n rukkie terug begin met my eie 'hoederboerderytjie'.  Het dit vreeslik geniet om te sien die hen begin broei, en die kuikens broei uit, en hoe die hen kloek-kloek al die kuikentjies roep as sy ietsie ontdek om te eet!  Ek het 15 hoendertjies gehad.  Tog te trots!  Toe trek ons en hier geland vaar twee honde in my hoenders in!  My hart was gebreek!  Ek het my ou groot Haan uit die hond se bek gered, hom in 'n hokkie gesit, gespuit met 'Persgoed' en hom elke dag kossies en skoon water gegee.  Hy het darem sy noue ontkoming oorleef!  My pa bring toe vir my nog 'n haantjie en 'n hennetjie.  Die vervlakste honde is darem nou weg, nou kan my hoendertjies vry in die tuin rondloop en skrop.  Dis vir my so mooi!  Ek kan nie wag dat die hennetjie begin broei nie!

Ek is vreeslik lief vir diere (en die natuur), maar honde is nou nie een van my gunstelinge nie.  Ek het twee van my eie -- Boerboele.  En ek is versigtig met hulle, maar as hulle my troeteldiertjies wil seermaak gaan hulle moeilikheid kry!  Gelukkig kan my katte en hoenders vrylik op die werf rondloop.  My woefies is vreeslik beskermend oor my en die kinders.  Ek voel veilig as hulle by my is.  Ek het drie katjies.  Gryskat is die jaar al 11 jaar oud!  Sy is die hoof van die huis en bewaar die hond wat sy voete in my huis sit!  Sy gaan vreeslik tekere en die honde koes en snol vir die deur!  Die ander twee katjies het maar net in ons harte ingekruip.  Die kleinste, Muskiet, het eintlik hier geland omdat ek haar moes grootmaak vir die stoor, maar ek kan dit nie oor my hart kry om haar te stuur nie.  Sy is om een of ander rede vreeslik klein.  Sy is nou al drie maande oud, maar is so groot soos 'n normale ses weke oue katjie.

Jou gesin (familie)

Tell me about your family. (Physical, activities, interests, age, studies, interesting facts, their routines, where they are/live, their aspirations, etc.)