If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Florandia se Nuwe Koning (Jacques du Plessis)

Ek dink nie enige van julle weet van die land Florandia nie. 

Nou die land Florandia, is baie ver van hier af, en die koning van daardie land se naam was FLORIX IX.

Nou dit is 'n bietjie van 'n treurige storie.
Weet jy hoekom? Florix het geen kinders gehad nie.
Nou, Florix se naam kom van sy oupa.
Hy was FLORIX VIII.
Nou soos ek sê, dit was 'n baie mooi land.
Die naam Florandia beteken, Die Land van Blomme. 

Nou weet julle wat? Koning Florix het besluit hy moet iemand kies om die nuwe leier van Florandia te word.
Maar hoe gaan hy dit doen?
Hy het nie kinders nie.
Nou Koning Florix het 'n baie slim plan gemaak.
Hy het besluit hy gaan 'n kompetisie hou om dan die nuwe koning of koningin te kies.
En dit is wat hy gedoen het.

Hy het al die kinders van die land laat kom.
Daar was kompetisies in sport. Daar was akademiese kompetisies - dis nou skoolwerk en sulke goed.
Daar was kompetisies om te sien wie kan hard werk.
Hy het mooi gekyk om te sien wie het respek vir grootmense.
Hy het kompetisies gehou om te sien wie kan vinnig dink.
Ai, ja jai, ... en aan die einde van al hierdie kompetisies was daar net vyf-en-twintig finaliste.

Die koning het hierdie vyf-en-twintig finaliste na sy kasteel genooi.
Hy het vir hulle gesê, "Ek gaan vir julle elkeen 'n saadjie gee wat julle moet plant."
"Die ene wat die beste plantjie na my toe bring, gaan die nuwe regeerder word van Florandia."

O, en elke kind het 'n saadjie gevat en haastig huis toe gegaan en die saadjie geplant.
Nou raai wat?
Nou gaan ons 'n bietjie kyk ... "wat het gebeur met Pépé?"

Pépé het die saadjie huis toe gevat.
Hy het dit geplant en gewag en gewag...
Hulle het ses maande gehad voor hulle die plantjies vir die koning moet kom wys.
En raai wat? Vir Pépé het daar niks gegroei nie, niks nie.
Pépé se hart was baie seer en sy mammie en sy pappie het elke dag gaan kyk.
Nee, daar was niks nie.
En wat nou?
Wat gaan hulle nou doen?
Pépé se hart was baie seer.

Ses maande het gekom en gegaan en dit was tyd om jou pot na die kasteel te vat.
Al vyf-en-twintig jong mense het by die kasteel aangekom en Pépé was ook daar.
En al die ander kinders het die pragtigste blomme gehad in hulle pot.
Dit was pragtig.

En daar staan Pépé met niks in sy pot nie.
Ag, dit was tragies.
En Pépé kyk die storie so, en hy voel baie sleg, en van die ander kinders het 'n bietjie vir hom gelag.
Pépé het niks gesê nie want hy het een ding geweet:
hy is 'n brawe seun, en dit is wat gebeur het, en dit is hoe die lewe is. 

En die koning kom uit.
Koning Florix IX kyk na al die kinders, en hy sê, "Seuns en dogters, hierdie is 'n baie belangrike dag.
Baie, baie dankie dat julle gekom het vandag.
Nou, kom ons kyk 'n bietjie na wat julle gebring het.
Ek wil hê elkeen van julle moet vir my jou plantjie kom wys.
En natuurlik die ander kinders was baie, baie bly om hulle plantjies te kom wys.
Hulle het vinnig nader gestaan en gesê, "Koning, kyk my pragtige blom."
"Ooo, maar dis mooi."
En die volgende een, "Kyk na my blom!"
"Oo, maar dis mooi!"
Maar, Pépé het nou gedink, miskien moet ek maar huis toe gaan.
Maar hy was nou daar, en hy kon nie eintlik nou gaan nie en hy wag maar vir sy tyd.
En daar het al vier-en-twintig die ander kinders hulle pragtige plante vir die koning gewys.

En die koning sien vir Pépé daar staan en hy sê, "Jong man, kom wys vir my jou plantjie."
Nou Pépé voel so bietjie rooi agter die ore en hy stap nader en sy kop hang 'n bietjie en hy sê,
"Koning, ek is ..., ek het nie 'n plant nie koning."
En die koning kyk vir hom, en die koning sê, "Wat is fout?"
"Ummm..., my plantjie het nie gegroei nie, koning.
Ek het my bes gedoen.
Ek het hom geplant en ek belowe koning ek het die plant elke dag water gegee.
Ek het alles gedoen wat ek kan, en my mammie en my pappie het ook seker gemaak dat ek doen wat ek moet.
Maar daar het niks gegroei nie koning.
En hy wil net sê, "Ek is jammer koning ..." maar die koning sê, "Pépé!"
"Ja, koning?"
"Kom sit hier langs my."
Toe wonder Pépé, "oops, is daar 'n probleem?"
En hy kom sit langs die koning.
En die koning sê vir die ander vier-en-twintig kinders, "Kom staan 'n bietjie nader asseblief julle."
En hulle almal staan nader, en die koning sê, "Weet julle wat?
Ek het al die saadjies in 'n pot warm water gesit.
Al die saadjies was dood.
Al die saadjies was gekook.
Pépé is die enigste kind wat eerlik was."

En al die kinders het so skaam gevoel.
Hulle koppe het gesak en hulle het na die grond gekyk, want elkeen het geweet
- sy saadjie het nie gegroei nie, en wat het hy gedoen?
Uh uh, hy het 'n ander saadjie gaan plant.
Pépé was eerlik, en julle kan raai wat gebeur het - Pépé was uiteindelik koning Florix X.