If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Heel maklik

deur Albert Short

Dis eintlik heel maklik om by ’n huis in te breek. Elke woning het ’n swakplek, jy moet net leer hoe om te kyk.

En wanneer jy eers binne is, is dit eintlik heel maklik om jouself in iemand anders se blyplek tuis te maak: die bank in die sitkamer, ’n sagte bed of sommer net ’n koue vloer. Die moontlikhede is oneindig. Dit voel dalk vreemd aan die begin, maar lag-lag raak jy gewoond.

Dis eintlik heel maklik om die huismense se klere aan te pas. Soms staan jy verbaas: ’n jas of ’n hoed of skoon onderklere. Vat dit saam as jy later weer padgee. ’n Mens weet nooit.

Dis eintlik heel maklik om ’n maaltyd voor te berei met geblikte kos, al het die goed al lankal verval. Daar is nie ’n wet wat jou verbied nie. Vreet soos ’n koning aan konfyte, pasta en rys of suip jouself simpel aan die whiskey en wyn. Maar moet nooit heeltemal uithaak nie – jy is ’n gas in ’n vreemde mens se plek. Gedra jou so.

En wanneer jy, enkeling, gaan sit aan die hoof van die eetkamertafel, is dit eintlik heel maklik om met jouself te gesels. Met jouself te argumenteer, selfs. Kyk na die familiekoppe in die rame, die ornamente en die leesgoed. Praat met jouself, soos in ’n dialoog. Lag vir jou eie grappe, want die hemel weet – niemand anders gaan vir dit lag nie!

Dis eintlik heel maklik om elke paar aande in ’n ander bed te slaap. Jou lyf raak gewoond daaraan om nie gewoond te raak nie. Dis meesal die kussing wat pla. (Vat dus altyd jou eie saam wanneer jy iewers inbreek en beplan om oor te slaap.)

Dis eintlik heel maklik.

Alles is op die ou end so blerrie maklik.

Om te vergeet.

Al is dit nou al tien jaar sedert daardie virus ons kom leer het dat niks ondenkbaar is nie. En die een daarna. En die een na dáái een. En daai een en daai een en daai een en –

Dis eintlik heel maklik om op te hou wonder: hoekom leef ék?

En nou …

Dis eintlik heel maklik om te vergeet waarom ek vanaand by hierdie huis ingebreek het. Was ek honger, was dit vir slaapplek? Of is dit sommer uit gewoonte. Uit alleenigheid?

Nugter weet waar is die nugterheid.

Dis eintlik maklik.

Een-alleen, maar maklik.

Heel maklik.

 

(Met vergunning -- https://skrop.co.za/kortstories/ )