If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Jy het belowe

deur Riana Wilkens

“Kom saam met my.”

Hulette se stem, duidelik in my kop. Maar sy lê hier voor my in ʼn koma , haar gesig geswel, haar lippe droog. Haar lang donker hare is plek-plek afgeskeer. Elektrodes koppel haar aan masjiene. Toue, monitors, syfertjies wat rondspring, en die dowwe plof van die longmasjien. Darem geen gebiep soos in die flieks nie.

“Ek is bang.  Ek wil nie alleen gaan nie.”

Ek vat haar hand. Dis yskoud.  ʼn Traan loop oor haar wang.

Ek vee dit af, sommer so kaalhand, draai venster toe en kyk uit oor die vreemde stad. Freiburg.  Dit lê stil en groen in die hoogsomerson. Te stil. Te groen. Iets is verkeerd.

“Jy het belowe, met jou bloed.”

Ek kyk werktuiglik na die klein, wit merkie op my wysvinger.

Twee alleen-dogtetjies,  twaalf  jaar oud, sweer hulle sal eendag saam die pad vat anderkant toe en verewig dit deur ʼn eed in bloed af te lê. Ek draai om.

Hulette se kil-blou oë is oop. Ek deins terug. Die oë volg my. Dan gryp haar hand myne vas.

“Dis nie my tyd nie.”

Ek probeer losruk maar die benerige hand klou.

“As dit myne is, is dit joune ook.”

Haar oë knip stadig.  Die wêreld kantel. Sy glimlag triomfantelik.

Ek hyg. Spring regop. Kyk om my rond. My slaapkamer. Dankie tog, dit was net ʼn droom. ʼn Selfoon lui aanhoudend.

“Frau Pienaar?” ʼn Manstem met ʼn swaar Duitse aksent. “You must come immediately. Your friend, Frau Hulette Lubbe, is in a critical condition in Freiburg University Hospital. There isn’t much time left.”

Ek druk die foon dood.  ʼn Sagte ruising.’n Fluistering. Hulette sit langs my op die bed. Sy hou haar hand na my toe uit.

“Jy het belowe.”

 

(Met vergunning -- https://skrop.co.za/kortstories/ )