If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Vloer 44

deur Krisjan Fourie

As ʼn spook vir ʼn mens iets wil sê, beweeg dit glo deur ʼn oop deur, venster of gang sodat jy dit kan volg. As die spook niks het om te sê nie, beweeg dit deur ʼn muur, vloer of plafon sodat jy dit nie kan agterna sit nie. Maar wees veral bedag – as ʼn spook in die nag wil hê jy moet hom of haar volg.

Die Ponte in Berea se 54 verdiepings troon al sedert 1976 bo Johannesburg se stadsgeraamte as die hoogste woonstelgebou in Afrika. Toe die bloedjong 29-jarige argitek Rodney Grosskopf die gebou ontwerp het, het hy geen benul gehad dat dit Suid-Afrika se selfdoodmagneet sou word nie. ʼn “Totempaal van Trane” of “Tower of Death” vir die 66 wanhopige siele wat vandaar die aarde se aantrekkingskrag aangegryp het. Ironies ook dat die meeste nie na die binneste holte van die gebou gespring het nie. Eerder na buite toe, waar die ganse Goudstad hul gehoor was.

Sy het geweet dit gaan moeilik wees. Haar broer kan nie meer alleen daar bly nie, veral nie na die kanker sy kêrel kilogram vir kilogram weggekalwe het nie. Toe D-dag aanbreek staan sy onder die woonstelgebou se ingang by die blombak bougainvilleas. Haar broer klok haar in by die sekuriteitshek onder. Streng toegangsbeheer is ʼn moet in 1995. Met die eerste verkiesing verby, sluip uitlanders na die goudpotte van Hillbrow met sy aanloklike demokrasie.

Daar is ʼn hele paar hysbakke in die Ponte wat veronderstel is om die inwoners soos miere op en af te karwei, maar vandag werk net een. Dit beteken dat dit gereeld stilhou. Ongure karakters klim in en uit, wat jou aanstaar asof Jan van Riebeeck jou ingedra het.

Die hysbak wemel van rare mense. ʼn Narsistiese Nigeriër, ʼn zolverkopende Zimbabwiër, ʼn hoogswanger Malawiër en ʼn ou man met net een oog wat stip vir jou kyk. En hulle is nog nie eens by vloer 22 nie.

Op vloer 33 klim ʼn flambojante fopdosser in, en kort op haar hakke ʼn haarkapper met ʼn pienk kwaff wat duidelik nie ʼn spieël besit nie.

Die hysbak stop op vloer 44, waar haar broer al 10 jaar woon. Sy kon nog nooit verstaan dat iemand met hoogtevrees in so ʼn hoë gebou sal wil bly nie.

Die woonsteldeur staan oop en die donker reuk van ou begrafnisblomme hang toegetrek in ʼn skemer van onoopgemaakte vensters en gordyne. Sy stap na sy slaapkamer en skep lig en lug. Hillbrow lyk mooi van ver – amper soos ʼn wenkbrou wat jou naderwink om die skoonheid van sy strate te kom insnuif.

Haar broer bly in sy kamer, en sy stap ingangsportaal toe. Drie gemerkte bokse is al wat saamgaan. Kombuis. Kiekies. Kitsch. En een satynserpie. Die res van sy besittings het hy verlede week buite die voordeur gelos. Dis gebuit binne ʼn oggend, selfs die yskas.

Toe hoor sy dit. ʼn Dowwe plof. ʼn Vrou wat gil. Sirenes. Sy moet hier uitkom. Sy gryp die satynserpie. Haar broer kom uit sy slaapkamer. Hulle stap hysbak toe. Dit wag reeds. Op pad ondertoe stel hy haar voor.

Aan die narsistiese Nigeriër, die zolverkopende Zimbabwiër, die hoogswanger Malawiër en die ou man met net een oog wat stip vir jou kyk. Ook die flambojante fopdosser en die haarkapper met ʼn pienk kwaff wat duidelik nie ʼn spieël besit nie.

Op die grondvloer staan die sekuriteitshek oop. Daar is baie polisie, en die opsigter is bleek.

Sy het geweet dit gaan moeilik wees. Langs die blombak bougainvilleas gooi sy die serpie oor dit wat oorgebly het van ʼn man.

 

(Met vergunning -- https://skrop.co.za/kortstories/ )