If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Biografie

Die Kaalkop Waarheid (DKW) is ‘n 6-stuk musiekgroep van Pretoria wat oorspronklike Afrikaanse musiek maak. 2009 is DKW se tiende bestaansjaar en hul nuwe CD, Woestyn se Rivier is einde 2008 bekendgestel en is genomineer vir ‘n SAMA: Beste Afrikaanse Rock Album. Die CD is live opgeneem oor ‘n tydperk van drie dae by StoepStudio’s (sic) onder leiding van Dan Roberts en Michael Canfield.

DKW het hul goeie vriend Gert Vlok Nel se liedjie Rivier saam met hom opgeneem vir die album. Rian Malan het verder ook bygedra met ‘n kitaarsolo vir die liedjie Kruise langs die pad wat deur Dan Roberts geskryf is.

Die Kaalkop Waarheid se genre is uniek in die Suid-Afrikaanse mark en kan met ‘n mondvol as Afrikaanse akoestiese big band folk-rock musiek beskryf word. Die lirieke, meestal uit die pen van Nardus du Plooy, handel oor alledaagse lewenservarings en is gevul met nostalgie, liefde en rooiwyn. Met die 2008 MK-Awards het DKW die toekenning ontvang vir ‘Tranetrekker’ van die jaar met hul liedjie Kleur van blomme.

Die groep het 10 jaar terug begin met stigterslede Nardus du Plooy (stem), Reenen en Wimpie, die Biddulph broers, wat by feeste opgetree het met twee kitare en ‘n Jembe drommetjie. Die groep het toe gegroei na ‘n baie groot 8- stuk en nou is hulle weer kleiner. Brenda Burnit (mandolien en stem) was tot einde 2008 by die groep betrokke en het nou besluit om op haar solo-loopbaan te fokus; Reenen Biddulp het verlede jaar Amerika toe verhuis. DKW bestaan nou uit Nardus, Wimpie, Jaco Lötter (kitaar en stem), Christo Groenewald (baskitaar), Wynand Davel (viool) en Lize Wiid (klavier en trekklavier).