If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Biografie

Matthys van Tonder het sy eerste lewenslig aanskou in Ficksburg, in die bekende kersiegordel, op 26 November 1982. In 1984 verhuis die van Tonder-gesin na Namibië en dit is waar hy sy eerste klavierles neem. "My eerste herinneringe is van Tsumeb waar ek leer loop en praat het, en in 1991 het ons verhuis terug na Suid-Afrika".

As tiener vlieg hy ligte vliegtuie, en verteenwoordig Suid-Afrika internasionaal in die sport skerm by die Junior Olimpiese Spele in Moskou en die Wêreld Kampioenskappe in Turkye.

Geïnspireer deur Koos du Plessis en kunstenaars, soos Lize Beekman, begin Matthys self skryf en komponeer. "Ek vind dat ek meestal oor verhoudings skryf... nie net die verhouding tussen mense nie, maar ook die verhouding tussen jou en die Skepper.". Sy passie vir lirieke en musiek lei hom tot optredes in klubs en pub's, sodat Matthys vandag `n ontluikende kunstenaar in eie reg is. Mathys Roets sluit by sy "Tien jaar later" vertoning een van Matthys se komposisies in "Al wat ek vra" en so ontvang hy sy "vuurdoop" as liedjie skrywer. "Dit was die eerste keer dat ek konkrete bewys gekry het dat ek `n kans het om dit in die bedryf te haal, na dit was die koeël deur die kerk..."

Hy tree op by Aardklop in 2005, 2006 , 2007 en 2008. In 2006, 2007 en 2008 tree hy by Inniebos in Nelspruit op en by die KKNK in 2009. Matthys se debuut-album, "Groetnis vir Jasmyn", is vroeër in 2007 vrygestel en die ontvangs by die verskillende feeste was uitstekend! Matthys se jaarprogram het daarna al hoe vinniger opgevul "Die Jasmyn waarvoor daar groete gestuur word, is die dames koshuis in Pretoria, waar ek iemand geken het".

In 2007 tree Matthys by die Kierieklapperfees in Potgietersrus op, die goeie reaksie wat hy verkry laat die organiseerders van die Biltongfees notisie neem. Hy tree op as gaskunstenaar en seremoniemeester by die Biltongfees en doen selfs die voor vertonings vir Watershed en Pieter Smith.

As liedjie skrywer begin Matthys ook aandag trek. Die vervaardigers van verskillende Kyknet programme nader hom vir tema musiek. Dit het tot gevolg dat ander maatskappye hom raak sien en in 2008 skryf hy saam met `n musiek legende Kreesan die tema lied vir die Jacaranda 94.2 versamel album "Sit dit aan".

In 2007 begin RSG van Matthys se musiek op hulle speellys plaas , ander radio stasies volg gou op hulle hakke. Radio Laeveld , Overvaal stereo , VCR , Jacaranda, Radio Rippel , Vally FM en Kudu FM (Namibië) en baie ander het vandag Matthys op hul speel lyste.

Een van Matthys se Komposisies "Reën" word in 2007 gekeur vir die World song contest en Matthys bereik die semi-finaal met die komposisie.

Einde September 2009 begin verskei platemaatskappye ook van Matthys as liedjieskrywer kennis neem. Die sanger Wynand Strydom neem een van Matthys se liedjies "Boer soek - vrou" wat Matthys vir die Kyknet TV reeks geskryf het op.

Matthys se loopbaan as akteur begin einde 2008 wanneer hy vir die eerste keer in ʼn toneel stuk "Uit die skadu" as akteur op die verhoog te sien is. - Reeks oudisies volg en in November 2009 vertolk Matthys die manlike hoofrol in - advertensie vir die produk "Shweet", - plaasvervanger vir suiker.

Matthys is woonagtig in Gauteng, Suid-Afrika.