If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Geen Plan B Nie (Danie Marais)

As jy gedigte of stories wil skryf -
die soort wat gate in mense oopraak-
vermy dan die oë van die verstandiges.
Verstandiges sien dinge soos dit is,
maar wanhoop nie daaroor nie -
bestuur dit bloot.
 
Om jou saaklik
deur hulle skerp oë te sien
is dodelik.
Jy sal nie hul afgemete medelye
kan verduur nie.
 
As jy verstandig wil wees,
vermy die biblioteek.
Netnou krap ’n storie of gedig jou oop
en jy soek rasend,
’n stomme lewe lank,
na die antwoord
op die bot punt
van jou verleppende tong.

Asseblief I (Danie Marais)

Van my woonstel se wentelbaan
is alles wat tel
’n gebed ver weg.
 
Maar voor jou totsiens-soen
het ek nie meer geweet waarvoor
om te vra wanneer ek bid nie.
 
Nou het ek vergeet van alles,
die res en die reën -
nou is dit net ek en jy tienduisend
onverhoorde nagmyle
in ’n enkelgebed ver.