If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Help My Onthou

help my onthou
wat ek in die natuur kon sien
as ek blindelings om my kyk
voor my gedagtes grys verkleur
en mettertyd alle skakerings
stadigaan daaruit sal wyk
 
help my onthou
dat ek jou stem sal hoor
wanneer jy male sonder tal vertel
hoe kosbaar ek is en hoe jy voel
ook daardie klank sal stadig verdwyn
soos organe oppak deurtrek met pyn
 
help my onthou
hoe jou hande en aanraking voel
wanneer jy my rondomtalie optel
en jou sagte kus op my lippe proe
daaraan wil ek vashou vir ewig
jou in kluis van my hart verpand
 
help my onthou
om alfabeties herinneringe reg te pak
die mooie ranskik op my geheuerak
daagliks kan ek dit netjies afmerk
met ‘n goue ster of slegs ‘n strepie trek
maar daardeur wil ek ewig bly blaai
tot tyd aanbreek dat ek slegs moet raai
 
help my onthou
deur gedurig saggies te praat
al hoor ek min en verstaan nie veel
ek sal steeds die krieseltjies deel
tot tyd en wyl die gryswaas sak
en as dit eendag so MOET gebeur
help my onthou en droog my traan