If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Help My Onthou

help my onthou
die droomblou van jou oë
as ek liefderyk daarin kyk
voor my gedagtes grys word
en mettertyd alle skakerings
stadigaan daaruit sal wyk

help my onthou
die strelende klank van jou stem
wanneer jy male sonder tal vertel
hoe kosbaar ek is en hoe jy voel
ook daardie klank sal stadig verdwyn
soos organe oppak deurtrek met pyn

help my onthou
hoe jou hande en aanraking voel
wanneer jy my rondomtalie optel
en ‘n sagte kus op my voorkop plant
daaraan wil ek vashou vir ewig
jou in geheue van my hart verpand

help my onthou
om alfabeties ons herinneringe mooi te pak
al die mooie ranskik op my geheuerak
daagliks kan ek dit dan netjies afmerk
met ‘n goue ster of slegs ‘n strepie trek
maar daardeur wil ek ewig bly blaai
tot tyd aanbreek dat ek slegs moet raai

help my onthou
jou unieke beeld voor my geestesoog
met volrond lippe en jou skelm knipoog
en komieklike sê-goed wat my dag opbeur
jy was en is die rede vir my voortbestaan
en as dit dan eendag so MOET gebeur
help my onthou en droog af my traan
      --Evelyn van der Merwe