If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Herinneringe in Goud

hierdie skoene het honderd betekenisvolle myle gestap
in dik bosveldsand skerp kameeldoring flenters getrap
agter die vierhoringdraai koedoebul aan
 
oor skerp klippe en rotse is die sole erg verweer
selfs op een plek die bruin sagte leer geskeur
om stroopsoet druppende heuning uit te haal
 
deur strome gly-gly met visstok in die hand
gesoek na  glibberige pienkgevlekte kalant
om heerlike, smaaklike dis te voorsien
 
op jakarandapers kombers lank stilgestaan
wagtend tot aromatiese geur sy weg oopbaan
magiese natuurskoon met deernis bewonder
 
teen geroeste hortjies van windpompleer op
wat in windstilte kierie-kierie kreunend stop
om later weer omwenteling te herhaal
 
langs Skedelkus se helse vuurwarm sand beweeg
met spierwit beendere en skeepswrakke nou leeg
verberg hul stil die geheim van gebeure
 
hierdie skoene hoewel op, voos, flenters en oud
gaan opgehang word in herinneringe van goud