If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Rachel de Beer

Baie baie lank gelede, was daar 'n klein dogtertjie.  Sy was ses jaar oud, en haar boetie Petrus; Petrus was vier jaar oud. 

En Rachel en Petrus het vir Mamma en Pappa gehelp op die plaas.  Nou dit was in 'n tyd waar daar nie elektrisiteit was nie.  En as dit donker was, het jy gaan slaap. 

En een middag laat, dit was in die winter, het Pappa gekyk, en hy het gesê, "Vrou, ek sien daar is 'n storm aan die kom.  Dit gaan sneeu.  Ons moet nou gaan en al die skape en al die beeste in die kraal gaan sit, voor dit sneeu.  Kom help my asseblief." 

En Rachel het gesê, "Pappa, Pappa, kan ons ook help asseblief?"En Pappa het gesê, "Goed Rachel, julle kan agter die huis gaan en vir ons al die skape daar kry, en jaag al die skape in die kraal, asseblief."En Rachel en haar boetie het al die skape gekry, en hulle in die kraal gejaag.  Maar, daar is een skaap wat nie daar was nie.  En Racheltjie het weer getel.  Een, twee, drie, vier.......sestig, een en sestig, twee en sestig, drie en sestig....Ja, daar was een skaap weg. 

En Rachel en haar boetie het vir die verlore skaap gaan soek.Pappa en Mamma het al die beeste gaan haal, en die beeste in die kraal gaan jaag.  En Rachel en haar boetie het baie ver geloop.  Maar hulle kon nie die skaap sien nie.  En hulle het gefluit.  Maar daar was nie 'n skaap nie. 

En toe begin dit sneeu.  En Rachel se boetie sê, "Rachel, ek is koud."  En Rachel het vir haar boetie gesê, "Moenie huil nie, Petrus, ons sal nou huis toe gaan.  Moenie huil nie, asseblief nie.  Ons sal nou huis toe gaan.  Ons sal nou- nou by die huis wees."En Rachel en Petrus het hulle huis gesoek. 

En hulle het geloop en geloop en geloop en dit het begin sneeu, en dit was koud, en die wind het gewaai.  Maar hulle kon nie die huis sien nie.  En dit het so baie gesneeu dat hulle nie vêr kon sien nie.  En Rachel het geweet hulle gaan nie die huis kry nie.  En Petrussie het begin huil.  Hy was 'n klein seuntjie.  Hy was net vier jaar oud.   En toe sien Rachel 'n miershoop.  En sy dink, "Aa!  Ek het 'n plan.  Ek sal 'n groot gat grawe,  en dan kan ons in die miershoop sit." 

En Rachel het met haar hande in die miershoop gegrawe, en 'n groot gat gemaak, en vir Petrus gesê, "Petrus, kom.  Sit in die miershoop."  En Rachel het ook in die miershoop geklim.  Maar daar was nie plek vir Rachel en vir Petrus nie.  So, Petrus het in die miershoop gesit, en Rachel het half in die miershoop gesit, half buite die miershoop.  En dit was baie koud, en dit het gesneeu.  En Petrus het weer gehuil.  En hy het gesê, "Racheltjie, ek is koud.  Ek is koud Rachel."  En Rachel het vir hom gesê, "Petrus, vat my truitjie en sit dit om jou."  En Petrus het Rachel se truitjie gevat, en om hom gesit.  Maar dit was baie koud, en Petrus het weer gehuil en gesê, "Rachel, ek is baie koud.  Racheltjie, dit is koud."En Rachel het haar rok gevat en gesê, "Petrus, sit hierdie om jou.  Dit sal jou help."  En Petrus het Rachel se rok aangesit.

Mamma en Pappa het geroep en geroep en geroep.  "Rachel, Petrus, Rachel, Petrus, Rachel, Petrus."  Maar daar was nie 'n antwoord nie.  En Pappa het gesê, "Ons moet help kry.  Iemand moet ons help!"  En Pappa het na die bure gegaan en vir hulle gevra, "Het julle vir Rachel en vir Petrus gesien?  En hulle het gesê, "Nee, wat is die probleem?  En Pappa het gesê, "Asseblief, kom help my.  Rachel en Petrus is weg, en dit is koud, en dit sneeu, en dit word donker."  En die bure het kom help. 

En almal het op hulle perde geklim en rond gery en geroep, "Rachel, Petrus." Maar Rachel en Petrus het nie gehoor nie, en hulle het nie geantwoord nie, en dit het donker geword.  En dit was nag.

En Pappa het bly soek.  Hy het gesoek en gesoek.  Maar hy het nie vir Rachel en Petrus gekry nie.Die volgende oggend het Pappa weer gaan soek.  En gesoek en gesoek.  En daar kom hy by die miershoop.  En hy sien vir Racheltjie, en Racheltjie was stil.  En hy kom, en hy tel sy dogtertjie op, en sy was styf.  Sy was dood.  En Pappa kyk in die miershoop, en daar sit sy seuntjie Petrus.  En Petrus het Rachel se rokkie aan, en Petrus het Rachel se truitjie aan.  En Petrus huil, "Pappa, Pappa!"Petrus het gelewe. 

En hierdie mooi dogtertjie was baie lief vir haar boetie, en sy het haar lewe vir haar boetie gegee.