If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Monoloë oor die onderwerp "Aleen"

Alleen

deur Ilne Fourie

(’n Jong seun sit op ’n stoel en staar voor hom uit. Hy is netjies aangetrek, das, knopieshemp en indien hy so sou voel sy skoolbaadjie. Hy is duidelik onrustig en ongemaklik. Hy rem aan sy das en probeer dit losser trek.)

Cobie: Hulle het gesê ek moet alleen hier binne wag. Hulle gaan nounou terug wees. Jis, die plek is sif ... Die vloer is taai en die vensters het vet vingermerke op. As Mamma moet sien hoe vuil is die vloer, sal sy wragtag ’n ... Mamma ... (Vee vinnig oor sy oë.) Die tannie is nice, maar die oom ... ek weet nie, ek is bang vir hom. Classic good-cop-bad-cop scenario. Amper soos Ma en Pa. Ma is sag. Volgens Pa te sag ... Die oom se vingers lyk soos vet varkworse en sy asem ruik soos ou sigaretrook en droëwors. Sy hele das was vol vetkolle en krummels. Dalk het hy ’n garage pie geëet. Die tannie het my hare deurmekaar gevryf en gevra:

“Wil jy ’n broodjie en ’n bietjie tee hê, Boeta?”

“Nee, dankie, Tannie, ek het sommer by die huis geëet.”

Die oom het net gesnork en ’n bol slym uit sy keel gekrap wat hy in die asblik in die hoek uitgespoeg het. (Diep stem.)

“Dis nie ʼn hotel nie ...”

“Ja, Oom.”

Ek wonder waar is Pa. En Juffrou ... Ek wou haar nog sien voor ek ... Hulle het gesê ek mag nie. Ek moes alleen inkom vir die ondervraging. Hulle het haar gister kom haal. By die skool. Ons was nog besig met Afrikaans toe ons skielik die polisieligte sien flits. Sy het uitgestap gekom en haar hande was agter haar rug geboei. Sy het gesukkel om in die vangwa te klim en het haar kop gestamp. Ek het jammer gevoel vir haar.

Pa was wit van woede. Sy onderlip het gebewe en hy het hard oor sy ken gevee. So hard dat sy baardstoppels klein bloeddruppeltjies deur sy vel gesteek het.

“Het sy ... het sy ooit aan jou ... Cobie ... Het sy aan jou gevat? Ooit?”

Ek wou nie vir Pa jok nie. Die kamp. Die koorkamp. Dit was drie weke terug. Ons het die middag waatlemoenfees gehou. Alles was rooi en nat en taai. Wiaan het my nog ge-tackle en ons het gat-oor-kop in die modder geval. Toe ek weer sien, was sy saam met ons in die swembad.

Ek wou nie kyk nie, maar ons het. Ons almal het.

“Julle manne dink mos as ’n mens dertig is, is jy ’n dinosour, nè!”

Sy het my kop onder die water gedruk, ek het uitasem losgebreek. Haar hare was nat en haar oë het groen geblink soos die waatlemoen se skil.

Ná die tyd is ek alleen na die storte toe. Die sif vloere van die badkamers was taai en die melkerige pienk waatlemoensap het enkeldiepte gestyg en by die deur tot op die stoep geloop.

“Die dreine is verstop ... As jy wil, kan jy sommer daar in my rondawel kom stort, Cobie.”
“Dankie, Juffrou.”
“Ons het darem warm water ...”
Jis, vir ’n warm stort gaan ek nie nee sê nie.

Ek weet nie wat het verder gebeur nie. Dit het gevoel soos ’n droom. Ek voel of ek op ’n mallemeule ry. Een van daai met die karretjies en die liggies en die perdjies soos toe ek klein was. Dit draai, amper te vinnig, die pers en blou en geel ligte maak jou naar, jou hande is taai van die spookasem en Slush Puppie, maar jy klou vas vir lewe en dood. Taai, soos daai dag met die waatlemoenfees en die stort en die warm water.

(Hy maak sy oë toe, sy gesig is strak.) Haar rug was goudbruin soos die grondpad op Oupa se plaas as dit gereën het. Haar oë groen lusern en haar mond soos warm kondensmelkkoffie.

“Cobie, hoe lank ken jy en juffrou Louw al mekaar?”
“Sy gee landloop en Biologie ... Ek het nie klas by haar nie. Ek het Skeinat.”
Ek wil haar sien. Ek wil nie alleen hier wees nie.
“Het sy jou ooit ongemaklik laat voel, Cobie?”
“Ja. Sy was altyd aanlêerig. En haar toppies ... dit was altyd te laag.”
Ek wil by haar wees. Waar is sy?
Ek sien pa se bloedstippeltjies onder sy ken se baardstoppels. Dit lyk soos klein robyne. (Pa se stem.)

“Sy is siek, man! Sy moet opgesluit word! Dadelik! Cobie, jy sal moet gaan getuig, Boeta. Julle is kinders, my magtig! Sy ... Hierdie ... hierdie ding ... moet uit die samelewing uit! Hoor jy my, Cobie?”

(Saggies.) “Pa het ook maar lekker gekyk langs die veld.”
Pa het my so hard geklap, ek het die binnekant van my wang stukkend gebyt.
(Sissend deur sy tande.) “Sê nou weer so iets ... sê nou wragtag weer so iets, dan ... ek sal jou...”

“Wat het gebeur die aand op die koorkamp, Cobie? Was julle alleen?”

Ek is jammer. Ek is jammer ek lieg. Ek is jammer ek het vir jou lief geraak. Ek is jammer ek baklei nie vir jou soos ek belowe het ek sal daardie aand in die rondawel nie. Ek is jammer ... ek is jammer.

(Kyk uitdrukkingloos in die kamera in.) Sy het my ingewag by die storte. En toe nooi sy my na haar rondawel toe om te kom stort. Ons was alleen. Net ek en sy.

 


Citius, Altius, Fortius se gat

Ann-ne Venter

Ék is Johanna. Ek ís Johanna. Ek is Jóhanna. Ek is Han genoem, maar Han is al lankal nie meer hier nie. My naam, dis so outyds.

My sussie, Katrien, 21, die GOLDEN GIRL, reeds oor die tou getrap, in die ander tyd gesit deur who knows. Sy is al so lank weg, sy het ’n randfiguur in die gesin geword – ’n skadu teen die muur, ’n rather unpleasant one, if you ask me. (Hoe Ma en Pa oor haar voel: Sy is net ’n gedagte, ’n skaduwee.)

Theunis, my ouboet, my beskermer ... die wurms kots hom al op.

Ma en Pa, wel in die vlees, maar nie altyd in die gees nie. Nog steeds Mnr. en Mev. Teen Romance, smoorverlief, witwarm en klewerig soos die sokkies van die eersterugbyspankaptein. Ek haat toe jam.

My pa en ma pleeg in absentia teenoor my, want Han is mos al groot.

Verbaas my woordeskat jou? Don’t sweat it – ek praat al so vandat ek 12 is, in fact, ek kon toe ek gebore is my eie doeke omruil. Ek is in Holhoek, Noordwes, in grootmenswees gebore en ontvang. As ek my lewe voor nou in woorde moes opsom, sou dit wees: Fabulously normal.

Jy sien, ek was ’n sterredenaar – nr. 2 in SA. Yster van ’n hokkiespeler – onder-16A op die rype ouderdom van 14. Seuns het uit my hand uit geëet ... ja, ek was op my tyd ’n looker. Ek was head bitch in charge van my vriendekring en was natuurlik nr. 1 in die Top Tien.

Citius, Altius, Fortius was my motto. (CHANTING.) Vinniger, hoër, sterker. Vinniger, hoër, sterker. (x2) Aaahhhhhh, the crowd goes wild. My beste was nooit goed genoeg nie. Nie vir my nie. (Wys hier op die feit dat ek myself ge-pressure het.)

Die osse stap aan deur die stowwe, geduldig, gedienstig, gedwee. Want Mamma en Pappa hét my nie ge-pressure nie, nee, nee, guilty as charged. Eintlik het ek geweet hulle was trots op my, maar ék het validation gesoek. Trots wees op my did not cut it. Hulle het actually vir my alles gegee wat ek nodig gehad het, hulle was daar elke flippen uur van die dag, maar volgens hulle, weer eens, was ék duidelik nie.

Het jy al ooit van die fliek Bubble Boy gehoor? Wel, ek was Bubble Girl. Ma en Pa het my beskerm teen alles en enigiets wat asemhaal, van ’n distance af natuurlik, selfs Theunis sou eerder vrek voordat ek iets sou oorkom. (Stilte.) En hy het.

Theunis was altyd daar, selfs wanneer ek hom nie nodig gehad het nie. En toe Pa en Ma ná dit Voortrekkers wil speel en die groot trek aanpak … toe het die pawpaw die fan gestrike.

Hier is ek nou. My naels rou gekou. My hare so walglik, dit het amper vir jou weggeskrik. My bene ... donderdye en haelskade.

Toe die groot stad my insluk, het die wrede werklikheid van die wêreld buite my veilige, knus bubble my soos ’n trein getref. Ek het ophou redenaars, debat en hokkie oefen. My reign as queen het sy vervaldatum bereik. Ek het besef dat daar in elke tienermeisie ’n uitgehongerde aasvoël skuil wat sit en wag vir haar volgende onskuldige prooi, naamlik die uwe, sodat sy die laaste stukkie dooie weefsel gulsig van my brose bene kan afskeur, and so the hunter becomes the hunted.

Ek het ophou grappies maak oor Theunis, want dit was net nie meer snaaks nie, ek moes dit die een of ander tyd face. My beskermer, my vegter, my kryger lê ses voet onder die verdomde grond. Dis asof ek een risky move in skaak gemaak het en toe het die pionne, die koningin, die flippen kasteel en die koning van my skaakmat, my ouboet, ook afgeneuk. Een risky move, een oproep.

So, ’n virus verteer my wêreld se mense, blou plastiek is die nuwe oseane, geweld word gruwelik gesaai, my mensdom het sy humanity verloor en my bubble is gebars. Ek moes eers op my eie brandstapel sterf om op te staan, like a phoenix from the ashes. Ek is wie ek is. Nie die medalje, die beker of die wenner nie. Ek vergewe myself nog oor Theunis, Mamma en Pappa gee wel om en my beste is beslis genoeg.

I am, afterall, the captain of my soul.

Citius, Altius, Fortius se gat, man.