If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!
1•Daar was eendag 'n liewe klein meisie met die naam van Donsie.
2•Sy het altyd so liggies rondgedans oor die grassies en onder die bome. Sy het soms op die gras gelê om die veldvolkies af te loer en af te luister.
3•Eendag lê sy weer daar aan 'n blom en ruik. 'n Skoenlapper met 'n seer vlerkie kom op die blom sit.
4•Hy begin huil.
5•"Ag, hier sit ek nou lam. Almal kan my vang want met een vlerk kan ek tog nie vlieg nie," kla hy.
6•Toe kom daar 'n ander een.
7•"Ag nee, moenie huil nie. Ek wys jou gou waar jy 'n ander nuwe vlerkie kan kry."
8•Die twee vlieg daar weg. Donsie spring ook op en sy is agterna.
9•Langs die pad kry sy 'n muggie.
10•"Ek kan vlieg en jy kan nie vlieg nie!" skree hy vir Donsie toe hy verder dans.
11•"Ag, maar ek wens ek kan," sê sy.
12•Hier kom 'n by verby.
13•"Ek kan tog vlieg en jy kan nie vlie nie, al is jy so groot!" brom die by.
14•"Ag, ek wens ek kan!" sê sy weer.
15•En so het dit gegaan. Almal wat verbyvlieg, spot vir haar om sy nie kan vlieg nie.
16•Net toe sien sy weer die twee skoenlappers wat op die blom gesit het. Maar nou vlieg altwee vrolik. Donsie sien die een se vlerk is weer heel.
17•Sy sien hulle kom van 'n ou, ou boom met 'n groot gat daarin.
18•Juis toe gaan ook 'n voëltjie met 'n seer vlerkie daarin.
19•Donsie kruip nader en sy loer in!
20•Daar binne sien sy 'n snaakse ou winkeltjie met 'n snaakse ou mannetjie daarin. Op die toonbank sit die voëltjie met die seer vlerkie.
21•"Kyk, Oompie! 'n Kat wou my vang en ek het net betyds losgekom. Soek dan vir my 'n mooi nuwe vlerkie wat by my ander een pas," sê hy.
22•"A ja, seker, ja seker!" sê die ou oompie. Hy klim op 'n klein leertjie en haal 'n groot pak van die rak af.
23•Daar was al die soorte voëltjies se vlerkies in. Net gou het die voëltjie sy nuwe vlerkie aan, en daar trek hy.
24•Donsie sien toe dit is 'n winkeltjie vir nuwe vlerkies. Daar het vlerkies van al die soorte rondgelê en gehang.
25•"Dit lyk vir my of hier vlerkies is vir al wat kan vlieg. Miskien is daar ook 'n paar vir my," sê. Donsie.
26•Sy steek haar kop in die opening en loer na binne.
27•"Oompie, Oompie, ek wil tog so graag vlieg. Het jy nie vir my ook 'n paar vlerkies nie?"
28•"Ag ja, maar moenie dat iemand jou ooit vang nie. Dan word jou vlerkies so seker afgehak."
29•"Nee, nooit nie!"
30•Toe kry sy 'n fraai paar blou vlerkies. Gou het sy hulle aan. Haar voete lig van die grond af op. Sy sweef deur die lug soos 'n donsie.
31•"Ai! Maar dis lekker om so te vlieg." Oor die huise se dakke, ja hoog in die lug.
32•Skielik hoor Donsie 'n geskree en 'n gefluit. Sy word bang want daar kom 'n sterk warrelwind wat haar skep.
33•Vinnig draai sy in die rondte. Toe sak sy grond toe in 'n groot blomtuin. Sy land naby 'n groot sonneblom.
34•"Ka! Ka! Ka!" hoor sy agter die sonneblom. Daar staan 'n stok-ou vrou en lag. Sy is vol rimpels en sonder 'n tand in haar mond. Sy doen niks anders as kinders vang nie. Nou lag sy baie lekker oor Donsie in haar tuin moes land.
35•"So ja, jy dink jy kan wegvlieg, nê? Ek het gou vir Warrelwind gestuur om jou te gaan haal toe jy oor my huis se dak vlieg. Hier sal ek jou hou."
36•Die ou vrou hak haar mooi blou vlerkies af, gooi dit in 'n diep put en sluit vir Donsie op. Daar sit sy alleen in die donker kamer.
37•"Ag, ek wens ek het by die huis gebly." Toe was Donsie so moeg dat sy aan die slaap raak.
38•"Tok! Tok! Tok!" hoor sy in haar slaap.
39•Deur die venster sien sy die snaakse ou gesiggie van die oompie in die ou boom.
40•Sy maak die venster oop en hy klim deur.
41•"Kom, Donsie, ek sal jou huis toe neem. Ek het 'n lang leer saamgebring," sê die oompie.
42•"Waar is die leer?" vra Donsie ewe verwonderd.
43•"Hier in my sak"
44•"In jou sak? Jy kan nooit 'n leer in jou sak dra nie!"
45•Toe haal die ou oompie twee lang hare uit sy sak. Gou knoop hy hulle aanmekaar.
46•"Nee, ek is bang daardie hare kan breek en dan val ons", sê Donsie.
47•"Moenie glo nie! Hulle is so sterk as die sterkste toue. Ek het hulle self uit die reus se baard getrek. Hulle sal rek maar nie breek nie," sê die oompie.
48•Donsie en die dwergie is gou deur die venster en af. Hulle het dadelik ook begin hardloop.
49•Nie te lank nie of die ou vrou kom vinnig agter hulle aan.
50•Donsie was bang, maar die ou oompie het baie slim planne gehad. Hy het eers die reus se hare in die ou vrou se pad gespan. Haar voete het daaraan gehaak. Sy skop en probeer loskom maar draai al meer vas. Gou haal sy 'n skêrtjie uit haar sak, knip, knip, knip gaan dit, en sy is los.
51•"Hier kom sy weer!" sê Donsie baie bang.
52•"Sy sal ons nie vang nie. Ons sal maar altwee met my vlerkies moet vlieg. Hou net styf aan my hand vas."
53•Gou het hy die vlerkies aangesit. Toe die ou vrou weer opkyk, sien sy net vir Donsie en die dwergie vêr, vêr oor die bome wegvlieg.
54•Sy was so kwaad dat brom-brom huis toe is.
55•Oompie het vir Donsie tot by haar eie huis gebring en daar in haar mammie se tuin neergesit. Die dwergie het verdwyn. Sy het nooit weer vir hom of die ou vrou gewaar nie. Toe haar ma in die tuin kom om haar te roep, vra sy: "Wat het jy al die tyd gemaak, Donsie?"
56•"0, ek het lekker rondgevlieg!"
57•"Gevlieg? Nee, my kind, jy het seker lekker geslaap daar onder die ou groot boom," terg Pa haar.
58•Maar Donsie het daarby gehou dat sy lekker rondgevlieg het, en wie weet, miskien het sy!