If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Die leë woonstelblok

deur Ilze Genis

Op die hoek van Koorshofweg en Negende laan staan ʼn gebou van die vyftigerjare. Afgeleefde ou plek. Die leë woonstelblok wag om gesloop te word. Agter tralies en gegrendelde glasdeure.

Die straat se verkeer weerklink gedemp deur mure waar prente en borduurwerk onlangs nog gehang het. ʼn Stoflagie bedek vloere en trappe en vensterbanke. Die eerste spinnerakkies verskyn. Pype raas nie meer nie. Vensters en deure bly dig, ʼn bedompigheid.

Die krag en water is lankal gesny, die woonstelle is donker en onbewoond.

Mense versnel hulle pas wanneer hulle verby die plek loop. Hulle kyk weg. Asof hulle dit dadelik wil vergeet.

Daar kan nie eggo’s wees nie. Daar is niks meer wat geluide kan maak nie. Geen skoene wat sleep nie, geen toilette wat spoel of geysers wat steun nie. Stil is dit snags, minder so bedags.

Sypaadjiegangers wonder hoekom die plek nie verkoop en opgeknap word nie: Was daar dalk ʼn tragedie?

Die leegheid sit daar soos iets vormloos. ʼn Bedreiging. Iets wat jou kan insuig. Jou siel kan uitryg.

Leegtes op leegtes. Spasies waar wasmasjiene en koelkaste gestaan het. Spore van meubels se pote. Songebleikte vierkante teen mure. Alles is weg, alles is stil.

Dit lyk tog of ʼn vingertjie in die vloerstof gekrabbel het.

En is dit wasem daar teen die ruit?

ʼn Roering in die slaapkamer, ʼn ingeboude kasdeur wat geruisloos oopgaan.

In die hoek van die badkamer, skuins agter die toilet … kan dit wees?

Net vir ʼn oomblik, ʼn illusie van klam lug in vuil skemerte.

Donker oogholtes en oop mondjie, ʼn klein grys gesiggie.

Dalk ʼn kind wat hier vergeet is?

Net ʼn oomblik en dan’s dit weer weg.

 

(Met vergunning -- https://skrop.co.za/kortstories/ )