If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Die rietbos

deur Amos Louw

As maplotters van Pomono het ons in die sewentigs nie spoeltoilette gehad in ons huisie langs die wilgerboom nie. Ons moes op die leiklippaadjie voetslaan, bult-af na die sinkhuisie wat agter die rietbos weggesteek is.

Een bewolke, stikdonker nag het ek geweet dis sulke tyd. Ek was twaalf.

“Pa, ek moet die plekkie besoek.”

“Nou toe, jy’s mos nie meer ’n seuntjie nie.”

Ek wou nie erken ek was bang nie. Dis ’n hele ent van die huis af. So, gedryf deur die eise van my ingewande, sit ek kaalvoet af na sinkhuisie. Ek neurie maar om myself geselskap te hou.

Daar gekom, is die houtdeur se haak moeilik om te sien en dit gaan voel-voel.

Met my broek om my enkels gaan ek sit op die houtbank oor die swart gat.

Dis pikgitswartdonker om my. ’n Koue luggie streel my astrant hier van onder af.

Buite, klink dit my, steek daar ’n wind op. Die riete raas. Die dikker stamme skuur teen mekaar en iets krap teen die sinkdak.

Laat my verduidelik: ek was ’n verbeeldingryke kind. En verbeelding kan op hol raak.

So dink ek toe: Daar staan iemand buite voor die deur. Hy haal asem soos die wind se gesnuif deur die riete.

Hy het nie ’n gesig nie, net ’n bek vol slagtande.

Die blote gedagte jaag my aan, en ek maak gouer as gewoonlik klaar, pluk my broek op oor my heupe.

My hart klop verwoed. Wat as ek die deur oopstoot en daar staan iets?

Ek stoot die deur oop, en daar’s niks. Net die rietbos wat raas.

So begin ek om die rietbos terugslenter huis toe. En terwyl ek stap met die wind in my blaaie, meet ek die afstand na die huis wat ek vaagweg kan uitmaak.

Amper daar, ek moet net verby daai boompie.

Wag ’n bietjie … was daar ’n boompie?

Nee, ek is redelik seker daar was nooit ’n boompie langs die paadjie so halfpad terug huis toe nie.

Ek stryk aan en bekyk die vorm in die donkerte.

En dan skielik beweeg die ding. Dit maak ’n proesgeluid wat ’n boompie nie sou maak nie.

My rug trek op een slag heeltemal hol en uit my binneste skeur ’n aardige, rou geluid wat ek nie kan herken as my vrees nie.

“EEEEEEAAAAAUUUUUURGHH!”

En ek hol by daai ding verby op voete wat die aarde verlaat.

In die kombuis staan ek en huil en hyg toe my pa skielik agter my in die kombuisdeur verskyn, asvaal en bewerig.

“Kan ’n man nie eers ’n bietjie buite staan en water afslaan nie?” (Sy woorde was baie meer kru.)

Hy was daar om my veiliger laat voel.

Net om byna van ’n hartaanval te beswyk toe die skreeuende demoon vlak by hom verby blits.

Ons lag nog al die jare oor hoe skrik sy baas gevang het.

 

(Met vergunning -- https://skrop.co.za/kortstories/ )