If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Die Stoomkamer

deur Corlietha Swart

Die reuse ou gimnasium staan glo al amper ’n dekade lank leeg, maar die masker van afgedopte verf en vuilbruin vensters kan nie die gebou se eertydse glorie verdoesel nie. As fanatiese fiksheidsinstrukteur hark ek inderhaas ’n betroubare studentevriend, Pieter, as vennoot nader om saam met my in dié goudmyntjie te belê.

’n Week van sweet spoed verby en dit begin lyk of die skoonmaakspan stadig maar seker besig is om die lelike eendjie in ’n swaan te omtower. Teen dié tempo kan die gimnasium dalk nog vóór die einde van die week sy deure oopgooi. Die enigste fasiliteit wat dalk nog nie in werkende toestand sal wees nie, is die stoomkamer.

Pieter en die nutsmanne sukkel nog eenstryk deur met die elektriese bedrading, die watertoevoer en selfs die halsstarrige deurknip wat ’n wil van sy eie het.

Ek stap nader en sien hoe hulle die dik, ouerige, swart pyp, wat opgerol in die stoomkamer se hoek lê, deurkyk vir lekplekke en toe aan die kraan koppel om water aan die stoomkamer te voorsien. Die ander ouens sukkel nog met die glasdeur se handvatselprobleem. Eensklaps begin die stoomkamer gorrel en dreun en die eerste water borrel spoeg-spoeg by die swart pyp se bek uit en begin deur die afvoergleufies verdwyn. Wit stoomslierte begin spokerig krul en blaas ’n dekade-oue, bedompige asem, soos dié van ’n heks, deur elke gleufie in die vloer. Ek ril onwillekeurig. Pieter pluk sy hemp uitbundig uit om die stoomkamer ten beste te waardeer. Ek wuif vir hom toe hy die binnekant van die stoomkamer met die swart pyp begin skoonspuit en trek die deur, met sy nuwe handvatsel, op knip.

Ek loop en wonder waarom so ’n oënskynlik florerende gimnasium se deure tien jaar tevore gesluit is. Wat het van die vorige eienaar geword? Dalk word ek iets wys uit die berg stowwerige state en papierwerk onder die administrasietoonbank. Die derde lêer van bo is vol vergeelde koerantknipsels.

Die derde koerantknipsel laat my na my asem snak. RAAISELAGTIGE MOORD OP GIMNASIUMEIENAAR: Mnr. Jakkie Kotzé, entrepreneur en gimnasiumeienaar wat sy gimnasium eiehandig uit skrootmateriaal opgebou het, se liggaam is Maandagoggend onder verdagte omstandighede met ’n swart rubberpyp styf om sy nek in die gimnasium se stoomkamer gevind. Hy is verwurg. Wat die omstandighede so onverklaarbaar maak, is dat die stoomkamer se deur van binne toegetrek was. Boonop is die gimnasium se voordeur gesluit gevind en was die enigste bos sleutels steeds in die vermoorde se besit. Geen vingerafdrukke, buiten dié van die vermoorde, is op die toneel gevind nie.

’n Beweging doer onder by die stoomkamer se deur vang my oog. Krampagtige hande trek vingermerke in die wasem teen die glasdeur. Ek kyk hulpeloos deur die ontvangstoonbankvenster na Pieter se laaste greintjie flou weerstand teen die swart rubberpyp wat soos ’n luislang al stewiger om sy nek kronkel.

Ek sien meteens weer hoe my pa homself tien jaar tevore in ons gesinsmotor met ’n swart pyp vergas en hoe my ma na die begrafnis die swart doodspyp woedend op die skrootwerf weggooi …

 

(Met vergunning -- https://skrop.co.za/kortstories/ )