In die koelte van ’n krom Karee
In die koelte van ’n krom Karee,
sprei lappieskombers en vonkelwyn,
Malmiere baljaar in smelt sjokolade,
want die wind het jou wilde woorde,
woes, warrelend weggewaai,
na wye wildvreemde oorde.
In ‘n vrotskuit op die spruit,
met slegs een enkel spaan,
sypel water deur die bodem,
wyl Rooivinke kwetterend skree.
Op die riffels van die water -
gebroke lettergrepe betraan.
Tussen klowe en berghange,
eggo holklank van verlange,
maar die waterval se rammel,
waar Arende kuikens voer,
stuit eggo stil in sy spoor,
as enkeling angstig rondloer.