In die skemer van die berge
In die skemer van die berge,
doringboom aan elke kant -
sit alleen die tenger vroutjie,
op die grens van niemandsland.
Wiegend neurie sonder woorde,
want haar siel is weggevat -
môre kom die nare drome,
op haar skewe kronkelpad.
Maar sy luister na geluide,
uit die Skepper se natuur -
wink kromvinger na die naguil,
wat haar woordeloos aangluur.
Sal sy opstaan, sal sy lewe,
slegs die jakkals kan getuig -
want as son sy strale uitstrooi,
sit sy met haar hoof gebuig.
Is daar water in die bergstroom,
wat haar dorre siel sal voed -
of is als vir haar verlore,
bly dit donker sonder gloed.
Maar die wolke op haar bergie,
gooi ’n skadu oor haar hoof -
as hul donker hang in stilte,
weet haar menswees is beroof.