Woestyn
skynbaar leeg en Godsverlate
strek jou wye bruinkombers
van hoek tot horisonkant
en in korrelsandstrate
net enkel dier en plant
wat stadige aksie roer
maar moenie uit gedagte verloor
Hy het jou met Sy skilderhand
neergepen en fyn beplan
sodat elkeen met sandvoetspoor
jou skoonheid en bekoring
netjies in geheuebank stoor
slegs enkele druppels
uit Sy bloubeker gegiet
laat jou telkens weer lewe
en elke dooie dorre plant
pronk in prag en praal
in son se snikhetestraal
wielspinnekop, gallop
rondomtalie teen helling af
en koggelmander kug
waar hy tweepoot poseer
op enkele ronde rots
uit sy borsie ’n welkome sug