Bruid van Tradouw
Tradouw, skone Tradouw,
die Langeberge hou jou toegevou
en waak jaloers uit die vroeë tyd
oor jou prag en heilige maagd’likheid.
Jy’s trots en rein soos die son
oor die heuwels van jou borste skyn
die wolke wit, die lug se blou
wat die sluier om jou slanke nek en skouers vou
en onder in die kloof se stroom
die kartelings van jou sleep se soom.
Goud en pers en needrig skaam
die plate heide en vygies
wat die hange van jou soepel rondings raam.
Tradouw, ewige Tradouw,
bruid onder die kruine bo,
jy laat my weer aan God
en aan die berge glo.