Bestemming
Ek sal hier opstaan en ek sal na my geboortegrond gaan.
Na waar ek die eerste keer die lig gesien het.
Na waar ek ‘n klein seuntjie was. Na al die skaduplekkies waar ek onder die Kameeldorings met die groot silwer peule gespeel het. Na waar ek my eerste koedoe geskiet het – en na my ouerhuis – waar liefde my voedsel en kleding was en sekuriteit ‘n warm winterkaros.
Ek het my lewe gelééf, sonder huiwering, met waagmoed, ywer en oorgawe. Ek het my klein oomblikkies van glorie gehad en my teleurstellings. Ek het wys genoeg geword om te besef hoe min ek werklik weet. Ek het baie dinge nie verstaan nie, maar ek het
die genade van geloof ontvang en dit behou.
En nou laat ek stakings en sirenes, oproer, kapings, koeëls en korrupsie agter en ek strek my, soos Paulus, uit na wat voor is.
Na waarheid, na wat eg is en suiwer. Na ‘n eensame vuurtjie in die veld. Na die reuk van die grond en gras na die reën.
Sonop sal ek die kiewietnes weer sien en teen die late die tarentale wanneer hulle vir die nag kom skuiling soek.
Ek gaan my kalwers tel en die versies merk, die wind oor my rug voel en die son op my skouers en ek sal, asof vir die eerste keer, die wolke weer regtig sien en snags die haelwit sterre van die Suiderkruis saam met die maan oor die uitspansel sien skuif. Ek sal die reën ruik as die wind my tentflappe roer.
Nou gaan ek luister hoe Leipoldt, van Wyk Louw en Watermeyer dit gesê het. Ek gaan hoor wat Mozart en Vivaldi, Beethoven en Bizet gehoor het. Pavarotti en Carreras, Sarah Brightman en Mimi Coertze gaan vir my sing en die Hallelujakoor uit die “Messias” gaan my opnuut met ontsag my oë laat sluit. Teen skemer sal
die viool, harp en orrel my laat wonder oor die musiek in die sfere van die ruim. Middernag sal die uil se roep en die jakkals se huil die nag nog stiller laat.
Ek gaan in my gemoed vrede maak met elkeen wat vir my ‘n struikelblok was en met elkeen vir wie ek dit was.
Dan gaan ek met my Skepper praat. Ek gaan Hom dank vir my ouers en my kinders en my lewe. Ek gaan by Hom intree vir my mense en my volk en vir elkeen wat sy Naam aanroep. Ek gaan voor Hom bely wat ek verbrou het en dat ek Hom so dikwels
teleurgestel het en ek gaan Hom vra om my nogeens te begenadig en in deernis aan te sien.
Dan sal ek vrede ken en gereed wees vir die eerste treë van die laaste reis na die Groot Bestemming.