Om Te Weet
Dis goed om te weet as ek weg is die maan nog sal seil
deur die wolke en nanag in die donker ragwerk van die
wilgers skuil.
Die lentereens sal nog salwend oor die rante
stuif en volle lewe na die vlakte bring. Langs ‘n
rooiduin sal ‘n duikerooi haar oortjies vir die veraf
onweer spits en sonbesies die middaghitte binnesing.
Somers sal die rose rank en die uile broei en in
die herfs die populiere soos goue torings teen die
sonsondergang staan. Die jasmyn sal haar geur nog
sprei en die skoonheid nog woon in kleur en klank, in
woord en lied, vir wie wil hoor en sien en voel.
Die liefde sal nog blom en trou beloof word – met
‘n kaartjie in ‘n bossie blomme. Kleuters sal nog lag en
speel, die jonges na die toekoms reik en die oues na
wat verby is terugverlang.
Die donker dieptes van die see sal sy geheime
nog bewaar en dit is goed so – want die mens moet nie
alles weet nie. Die misterie van die sel en die geheim
van lewe self, wat heilig is, moet steeds bly. Daar moet
nog musiek en prosa en gewaarwordinge wees wat so
diep tref dat dit ‘n knop in jou keel bring en jou oë
wasig maak.
Dis goed om te weet as alles verby is die hoop
nog sal lewe en die geloof nog sal hou – in die ewige en
Onsienlike. Hy sal hoorbaar wees in die veraf dreuning
van die branders en die nabye flitsende blitse. In die
ruising van die aandwind sal sy Gees voelbaar wees.
In die Boland sal die aronskelke winters steeds wit in
die vleie staan. Dit alles is goed om te weet voor die
mens op sy laaste lang reis gaan.