If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Biografie

MUSIEK

Karin Hougaard, Suid-Afrika se kaalvoet sangeres, is reeds die afgelope 30+ jaar 'n huishoudelike naam in die Afrikaanse musiekbedryf. Sy maak haar debuut in 1980 op 16 as algehele wenner van die ATKV se Crescendo - die jongste wenner nog. As komponis skryf sy as skooldogter musiek vir die Vrystaatse Kunsteraad se Leipoldt Gedenktoer. Haar eerste album EERSTE AFSPRAAK sien die lig in 1983. Die album verdien haar 'n Springbokradio Sarietoekenning as Beste Nuweling en is die begin van haar ligtemusiek loopbaan. Met die album HERONTMOETING (1988) raak sy meer betrokke in die produksiesy van die album en herbevestig sy haar invloed op die Afrikaanse musiekindustrie en bestempel die media haar as die eerste popster in Afrikaans. Gedurende die era 1980 tot 1994 neem sy deel aan diverse televisieproduksies asook 'n wye verskeidenheid van konsertoptredes dwarsoor Suid-Afrika en Namibië. Die versamelalbum HOOGTEPUNTE verskyn ook gedurende hierdie tyd.

In 1994 stel Karin die album BLY vry, 'n waterskeiding vir haar - omdat sy met hierdie album totale kreatiewe beheer oorneem van haar produk. Met BLY breek sy weg van die tienerster beeld en word haar professionaliteit, volwassenheid en integriteit as kunstenaar voorop gestel. Die album bestaan meestal uit haar eie komposisies en geniet groot kommersiële en kritiese sukses asook ‘n benoeming vir ‘n FNB toekenning.Die eerste sogenaamde CD single deur 'n Suid-Afrikaanse kunstenaar word deur Hougaard vrygestel in Junie 1997, met 6 variasies van dieselfde lied. THIS IS AS LOVE AS LOVE IS GONNA GET haal die topverkoperlys asook die top tien van verskeie radiostasies. Die cd behaal ook die eerste plek onder Engelsprekende lande by die 12e OGAE liedkompetisie in Spanje en die twaalfde plek oor die algeheel.

MUSE sien die lig in 1998. Met die album kombineer sy vir die eerste keer Afrikaans en Engels op een album. Sy debuteer ook met die gelyknamige produksie op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Die album word in verskeie kategorieë benoem vir ‘n FNB toekenning.

Met rolmodelle soos Europese ikone Jacques Brel, Edith Piaf, was dit 'n logiese progressie dat Karin 'n album sou vrystel met van hulle musiek. Dat Hougaard dit egter 'n kinkel in die kabel sou maak is ook seker logies, want sy verkies om dinge op haar manier te doen. Met METAMORPH (1999) plaas sy die musiek van Brel en Piaf in 'n nuwe konteks. Verwerkings (deur Didi Kriel) deurspek met Afrika elemente maak van die album iets unieks. Die verhoogproduksie verower by beide die KKNK asook Aardklop die toekennings vir innovering en grensverskuiwende werk. 'n Nominasie vir FNB SAMA toekennings as Beste Volwasse Kontemporêre album in Engels en 'n FNB VITA toekenning vir kostuumontwerp rond die suksesvolle prentjie af.

Op uitnodiging van Nederlandse ikoon Herman van Veen, open Karin die Harlekijn Holland Produksiehuis se nuwe kantore (Desember 2002) met 'n opdragwerk - Karin Hougaard sings Queen. Die produksie met regie en teks deur Van Veen bring Karin dan ook na Suid-Afrika se Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 2003. Karin se eerste "live" CD KARIN HOUGAARD SINGS QUEEN word ook deur Harlekijn Holland opgeneem en versprei.

In Maart 2005 besoek Karin België om deel te neem aan die vieringskonsert NEKKA NACHT van Herman van Veen se 60e verjaarsdag. Karin is die enigste SuidAfrikaner wat hierdie eer te beurt val. Sy sing met groot sukses in Afrikaans vir gehore van meer as 15 000 mense.HARTSTUKKE die album en verhoogproduksie debuteer by 2006 KKNK en ontvang nominasies as Beste Kontemporêre Musiekproduksie asook beste plakkaat. Karin verower dan ook die KANNA as die INSPIRERENDSTE VROUE KUNSTENAAR Klein Karoo Nasionale Kunstefees 2006. Sy toer met hierdie program deur Nederland eind 2008.

OMNIBUS 'n versamelalbum met haar grootste treffers vanaf 1983-2006 word vrygestel in 2006.

Karin Hougaard se akoestiese CD HARTSTUKKE onder leiding van die briljante Nederlandse kitaarspeler Edith Leerkes, word in 2007 benoem vir ‘n SAMA Toekenning (South African Music Award) in die kategorie BEST ADULT CONTEMPORARY ALBUM (AFRIKAANS). Sy word voorts ook benoem in 3 kategorieë vir VONK AFRIKAANSE MUSIEK TOEKENNINGS: BESTE KOMPONIS, BESTE VROULIKE SOLOKUNSTENAAR; BESTE VROULIKE ALBUM. 2008 verskyn ‘n mini cd getiteld JOU VERHAAL en in 2011 stel sy saam met FransNederlandse sanger Philipe Elan, die duet Quiet Love vry op sy album HORIZONS, vry.

Die album getiteld ALIEN SKY sien die lig in 2012 en handel oor vreemdelingskap asook haar ervaring as Suid-Afrikaner in die buiteland. Die album is meertalig. Dieselfde jaar mede-skryf Hougaard die temalied vir die Suid-Afrikaanse film LIEN SE LANGSTAAN SKOENE.

Karin se lied Kruietuin vanaf haar album BLY word ook gedurende hierdie tydperk in die nuutste FAK opgeneem.Gedurende 2012 val nog ‘n eer haar te beurt. Karin en Anne van Veen se komposisie Bij Mij (vanaf die cd HARTSTUKKE) word uitgesonder as een van die top tien Nederlandse kleinkuns liedere - sogenaamde Nieuwe Klassiekers - liedere met ewigheidswaarde.In Februarie 2014 verskyn die Afrikaanse enkelsnit LUKAS, 'n duet deur gesing Karin Hougaard en Ashton Nyte, beide Suid-Afrikaners wat tans woonagtig is in die VSA.2015 Organiseer Karin saam met Herman van Veen se Harlekijn Holland ‘n multidag Afrikaanse kunstefees op sy De Paltz landgoed in Soest, Nederland. Benewens Karin tree kunstenaars soos Coenie de Villiers, Pops Mohammed, Joshua na die Reën, Anna Davel en ander op tydens hierdie geleendheid.

2016 Stel Karin ‘n enkelsnit op publieke aanvraag vry: Leonard Cohen se HALLELUJAH. Die snit is slegs aanlyn beskikbaar. Karin tree ook op as gaskunstenaar tydens Week van die Afrikaanse Roman ‘n 10 dag lange toer deur Nederland en België met van SA se beste skrywers waaronder Marlene van Niekerk, Ena Jansen, Marita van der Vyver en ander.

Ondertussen skryf en vertaal Karin ook op gereelde basis lirieke vir kunstenaars soos ondermeer Herman van Veen, Jannemien Knossen, Willie Strauss. Die mees resente is LOS DIT, 'n liriek deur Karin en musiek deur Herman van Veen. Dit is tans deel van sy konsertrepertoire en Jannemien Knossen het pas ‘n Engelse weergawe (ook vertaal deur Hougaard) op haar nuutste cd vrygestel.

As stemkunstenaar neem sy in 2017 'n CD met voorlesings van 25 Shakespeare Sonnette in Afrikaans op. Vertaal deur Anna Neethling-Pohl en toevalligemusiek deur Chris van der Westhuizen.

2018 tree Karin ondermeer op by KKNK en debuteer sy by die Woordfees met haar produksie GREPE. Hougaard word dan ook genomineer as die Beste Kunstenaar (Ligte Musiek) tydens die Woordfees.

In 2020 tydens die Covid-19 grendeltyd neem Hougaard op versoek verskeie van haar ou treffers akoesties, tuis op en plaas dit op sosiale media. Sy debuteer nuwe komposisies ANDERS en EK WAG gedurende hierdie tyd, maar dis tans slegs as musiekvideos beskibaar.

Hougaard word in September 2020 ingehuldig by die SA Legendes museum en in dieselfde periode verskyn DROOM ONS, haar eerste nuwe volwaardig, kommersieël beskikbare enkelsnit sedert 2016. Die lied handel oor almal se gedeelde wêreldwye, kollektiewe belewenis van inperking en die pandemie. Die snit word 'n projek wat 3 kontinente span: Karin neem haar stem op in haar ateljeetuis in Noord-Carolina, VSA, Jaconell Mouton in Muizenberg, SA hanteer die musiekverwerking, programmering, klavier en finale meng. Die klankoptimalisering vind plaas in Doha, Saudi Arabië deur Mazen Murat bekend vir sy werk met Rolling Stones, Alanis Morisette, Cat Stevens en vele meer. 'n Gepaardegaande musiekvideo word ook terselferdertyd vrygestel met artistieke advies deur kunstenaar Michèle Nigrini in Rosendal, SA.

 

TONEEL

Karin het haar debuut as aktrise gemaak in die Suid-Afrikaanse produksie van The Sound of Music in 1976 as een van die von Trapp kinders. Tydens haar eerste jaar op universiteit speel sy in die televisie jeugprogram Rieksie Rautenbach, baasspeurder. Daarna het sy nie verder tyd spandeer aan toneelspel nie.

Dan in 2002 nooi die formidabele Nederlandse kunstenaar Herman van Veen Karin om deel te neem aan 'n projek getiteld THE FIRST LADY - losweg gebaseer op die lewe van Jacqueline Kennedy Onassis. Die teks geskryf deur Lori Spee (AmerikaansNederlandse sanger) en die regie deur Herman van Veen, maak vir Hougaard nuwe horisonne oop - die keer waag sy haar hand aan toneelspel. In Nederland en België toer die produksie met Lori Spee in die hoofrol as Jacqueline Kennedy Onnasis en Hougaard as dubbelspeler, maar in September 2003 kom die produksie na die Aardklop kunstefees met Karin in die hoofrol. Die uiteinde 'n Onder die top 5 vertonings op die fees, asook erkenning deur die kritici (Barry Hough beskou dit as die beste produksie) en publiek as 'n kragtoer.

Karin se assosiasie met Herman van Veen word in 2005 voortgesit met 'n besoek aan Friesland om te werk aan MATA HARI 'n nuwe werk deur Van Veen. In November 2005 toer sy met die produksie waarvan al die teks in Nederlands is - deur Nederland en Oostenryk. Sy bring in die daaropvolgende jaar die vertoning na Suid-Afrika met groot sukses.

In 2010 werkwinkel sy saam met die van Veen span die verhoogproduksie ‘n Dag in September, in België.

KUNS / SKRYF / ENSOMEER

 

AS SKILDER

In Februarie 2008 debuteer Karin met haar eerste eenvroukunsuitstalling getiteld KARIN HOUGAARD -SOLO. Die eerste van 3 kunsuitstallings daardie jaar. Daarna verhuis sy na die VSA waar haar fokus verskuuif na opdragwerke en inspirasie uit haar omgewing. Sy werk tans aan ‘n opdragwerk oor seisoene. Sy doen ook beeldhouwerk in sement en is besig met 'n reeks visse.

 

AS SKRYWER

Sy stel in 2008 haar eerste woordbundel getiteld WOORDE SONDER WYSIES vry. Haar eerste kortverhaal Die Biologie van Onthou word gepubliseer in die bundel AMFITEATER uitgegee deur Proteaboeke.

Karin se welbekende lied Kruietuin se teks word voorgeskryf as poësie vir graad 11 Afrikaanse leerders.

Karin se woordbundel getiteld WEGKANER verskyn in Februarie 2014. In 2015 verskyn Karin se kortverhaal STERKIND in die versamelbundel SKRIK OP DIE LYF uitgegee deur Tafelberg.

In 2017 gee Karin die digbundel 25 Sonnette van Shakespeare met vertalings na Afrikaans deur Anna Neethling-Pohl vry. Saam met die digbundel lees Hougaard die 25 sonnette voor met toevallige musiek deur Chris van der Westhuizen. Daar is tans nog 'n paar van haar kortverhale in die publikasiepyplyn. Voorts doen Karin ook voorlesings van haar werk vir ‘n nuwe Afrikaanse aanlyn lees-enluisterbiblioteek.

 

ENSOMEER

Karin se produksiehuis (Karin Hougaard Produksies) vervaardig voorts ook musiekvideos en akademiese opleidingsvideos.

 

AMBASSADEUR

Karin is tans betrokke by die nie-winsbejag onderneming Dreamcatcher SuidAfrika, hierdie projek fokus op die ontwikkeling van volhoubare toerisme en entrepeneurskap in klein gemeenskappies soos byvoorbeeld Melkhoutfontein.

 

Webtuiste