die laaste gedig
professore, doktore, kokkedore en ander koolore
die titel van my gedenklesing vanaand is:
“Die laaste gedig”
Ter inleiding: die laaste gedig is nog nie geskryf nie
Premis 1: die laaste gedig sal lig werp op wat onsegbaar is
en dit daarby laat
Premis 2: dit sal ’n gedig wees sonder woorde en metafore
beeldspraak, metrum of rym, sonder sintaksis
of lettergrepe
Konklusie: ’n gedig sonder taal, ’n gedig in wit
strepe op papier sonder verband of betekenis
net ’n leesteken hier en daar wat sinjaleer:
hier is die graal van stilte in git