If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Digter Wordende (Krog)

om op 'n oggend wakker te word binne-in klank
met vokaal en klinker en diftong as voelspriet
om met aarselende sorg die effensste roerings
van lig en verlies in klank te kalibreer

om jouself meteens gekniel te vind
bo-oor die hoorbaar kloppende wand
van 'n woord - soekend na daardie presiese
moment wat 'n versreël volloop in klank

wanneer die betekenis van 'n woord swig,
begin gly en hom eindelik oorgee aan geluid
van dan af smag die bloed na die inkantasie
van taal - die enigste waarheid staan gevél in klank

die digter dig met haar tong
sy haal asem - ja, diep uit haar oor

(Voorgedra deur Lezandra Thiart)