If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Elke keer

  elke keer
as goue sleutel draai
in die horingou slot
van ons twee
se diggeslote deur
voer dit my mee 
soos voorheen ook
meer as ’n duisend keer
na liefde daar geberg
as edelgesteente gestoor
meer waardevol
as kosbaar’ skittergoud 
want male sonder tal
al is die geroeste gleuf
reeds krakerig en oud
draai die sleutel
om en om en kleef
aan soet herinnering 
daarbinne saamgeweef
maak ek ons kissie
versigtig, met gevoel
stadig oop en dan
skitterlig wat daaruit straal
en die deuntjie wat
slegs vir ons twee draal
 
lig ek dit veerlig
en troetel tussen twee palms
liefde wat ek daaruit haal
plaas dit dan saggies
met ’n liefdeskus terug
 
tot volgende keer
wanneer ek weer
suutjies tonetrippel
oor hierdie wasembrug
om ons verskuilde skat
skitterend te voorskyn bring
tot dan en dan alleen
wanneer my heimwee hart
van volkome liefde sing