If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Die Perfekte Storie

Lank, lank gelede was daar 'n klein dorpie tussen niks en nêrens. Hierdie dorpie was baie spesiaal gewees. Almal was gelukkig en... perfek. Die strate was skoon, die mense was vriendelik en niemand het skelm gepoep nie.

In hierdie perfekte dorpie het 'n perfekte gesin gewoon. Pappa het groot spiere en blou oë gehad. Mamma se tande was spierwit pêrels en haar glimlag sag. Boet was 'n kranige rugbyspeler en hoofseun. Sus was die beste mediaprefek in graad tien en hoog-swanger.

Een perfekte oggend het mamma gaan inkopies doen. Toe sy by die huis kom, vind sy vir Pappa by die kombuistafel. "En nou, Pappa?" vra sy verward en haar wit tande glinster in die sonlig. "Ek het my werk verloor", sê Pappa en bult sy perfekte speiere. "Dit sal nie deug nie", sê Mamma en glimlag sag. "Jy sal 'n ander werk moet kry. Om perfek te wees is nie goedkoop nie."

Pappa spring so vinnig op dat sy perfekte kuitspiere bult en die leë wynbottels met 'n slag op die grond te lande kom. "Moenie vir my sê wat om te doen nie, Mamma", sê hy terwyl hy vir Mamma deur die gesig klap. Pappa se sterk vuis tref Mamma in die maag. Nog 'n vuis tref haar in haar perfekte ribbes. "Gelukkig is dit winter", dink Mamma en beskerm haar perfekte gesig met haar arm. "Ek kan langmou-klere dra sodat niemand die aaklige blou kolle kan sien nie."

'n Rukkie later kom Boet by die huis aan. Hy was moeg, maar gelukkig. Die rugbyoefening was taai, maar Boet het 'n plek in die eerste span gekry. Toe Boet by die deur instap het hy groot geskrik. Pappa was besig om Mamma se sagte glimlag stukkend te slaan.

En toe word Boet baie, baie kwaad. "Wat maak jy, Pappa?", vra hy met 'n kwaai stem. Maar Pappa hoor hom nie. Boet gryp 'n mes van die kombuistafel af. "Dis nie mooi nie, Pappa", sê Boet terwyl hy die mes in Pappa se sterk rugspiere indruk. "Stop dit dadelik!"

Toe die nare, wrede Pappa uiteindelik dood op die grond lê, help Boet vir Mamma op. "Jy is my held, Boet", sê Mamma dankbaar. "Jy het my lewe gered".

In 'n perfekte dorpie ver hiervandaan was daar eendag 'n perfekte gesin. Mamma se tande was perfekte pêrels en haar glimlag was sag. Boet was baie geliefd en gewild onder die medegevangenis. En Sus was die mooiste mamma in graad tien. Sy was die mamma van die mooiste, perfekste babaseuntjie.

Die einde. 

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)