If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Die Skildery

Ansie kyk na 'n skildery in verwondering.

Vir die laaste sestien jaar hang hy daar. My hele lewe lank. Pa se geskenk aan Ma met my geboorte. Vir sestien jaar was die skildery deel van my lewe. As ek by die huis kom het sy my gegroet. Haar groen oë wat regdeur my kyk as ek droog gemaak het. Die glimlag om haar mondhoeke wat altyd daar was, selfs as sy kwaad was. En toe die siekte Ma weggevat het, was dit al wat ek van haar oorgehad het.

'n Oomblik in gedagte.

'Ons hoef nie van hom ontslae te raak nie. Ons kan hom net skuif. Na die studeerkamer toe, dalk?'

Die vrou sou nooit verstaan nie. Om die skildery te skuif, is soos om Ma weer dood te maak. Die studeerkamer was nie haar plek nie. Haar plek is in die sitkamer, bo die kaggel. Waar sy my groet as ek by die huis kom na nog 'n sinnelose dag by die skool. As dinge te veel raak en ek wil my hart uitstort voor die kaggel, dan is sy daar. Hier is sy nog deel van ons lewens, nie deel van ons geskiedenis nie.

Pa het lank stil gebly. Hy het na die skildery gestaar sonder om 'n woord te sê. Ek was seker hy het in sy hart met Ma gepraat om te hoor wat hy moes doen. 'Ansie kort 'n Ma-figuur in haar lewe. Dis vir haar beswil.' Of 'Dis tyd om aan te beweeg. Vergewe my Antoinette.' Watter verskoning Pa ookal aan Ma probeer afsmeer het - die vrou het dit nie verstaan nie.

'Jy hoef nie dadelik te besluit nie, Hannes', het sy gesê. 'Die troue is eers oor twee maande.' Ek weet sy het probeer om sensitief oor te kom, maar niks kon meer onsensitief wees nie. As Pa voor Ma se skildery gestaan het, het selfs ek dit nie gewaag om iets te sê nie. Dit was sy tyd saam met Ma. Pa het vir die vrou gekyk asof hy uit 'n droom wakker geword het. (Pouse) 'Dis okei', het hy gesê. 'Ons kan haar studeerkamer toe skuif.'

Ek het gevoel hoe die bloed my gesig verlaat. Die vrou het simpatiek probeer lyk, maar ek kon sien hoe sy 'n glimlag onderdruk.

(Sarkasties) 'Moenie worrie oor my nie. Doen wat julle wil met my ma. Ek het nie enige sê nie. '

'Ansie, nie nou nie', het Pa moeg gesê.

'Nie een van julle het my opinie gevra nie. Julle staan voor my en bespreek my ma asof ek nie bestaan nie.'

'Dis tyd om aan te beweeg', probeer Pa. 'Ek mis haar ook, maar ons kan nie vir ewig treur nie.'

Ek weet ek raak lelik, maar ek kan myself nie keer nie. Maande se hartseer en vrees borrel uit.

'Asseblief, moenie my laat lag nie. Pa het lankal ophou treur. (Na skildery) Sorry, Ma. Jy is uit die prentjie uit. Pa het jou vervang met iemand jonger en sexier. '

'Ansie!' Ek kan hoor Pa raak kwaad, maar ek is verby omgee.

'Wat van my, Pa? Ek is nog nie reg om aan te beweeg nie'.

'Liefie, jy is nie...' (onderbreek) Shut up. (aan gehoor) Dit was die enigste woord wat die vrou probeer inkry het. Daarna bly sy stil.

(Smekend) 'Die skildery is al wat ek oorhet van Ma. Elke dag is al klaar 'n stryd. Sonder haar sal my lewe ondraaglik wees. Asseblief moet haar nie wegvat nie. '.

(Hard) 'Jou ma is dood!'

Pouse.

Toe hy dit sê, weet ek dit is waar. Maar ek is kwaad vir hom omdat hy dit sê. Ek is kwaad vir die vrou omdat sy my daaraan herinner elke keer wat ek haar sien. Ek is kwaad vir myself omdat ek oor 'n skildery baklei. Maar tog gryp ek 'n stoel, klim daarop en probeer lomp die skildery van die muur afhaal.

'Ansie, wag.' Pa probeer keer en ons trek tou met ma se skildery. Ek skreeu soos 'n besetene. Pa skreeu iets terug en ek sien dat hy huil. Ek snik en skreeu gelyk. En dan val die skildery. En ek val. Die rand van die stoel steek deur Ma se groen oë en haar gesig word verwronge, onherkenbaar.

En die wêreld stop. My beeldskone ma met haar groen oë en die glimlag om haar mondhoeke, is dood. 

 

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)