If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Ek het jou lief gehad

(Eerlik, kwesbaar) Ek het jou lief gehad. Met 'n... spesiale tipe liefde. Nie die gewone verliefdheidliefde... of die oppervlakkige een-dag-per-persoon-liefde nie. My liefde vir jou... ons liefde... was anders. 'n Liefde wat 'n leeftyd vat om te groei, al het ons mekaar vir 'n kort rukkie geken. 'n Vuurwerk-liefde, 'n kuier deur die nag tot die son opkom-liefde. (Somber) 'n Tot die dood ons skeiliefde.

Ek het jou lief gehad met 'n spesiale liefde want jy was spesiaal. Jy was my sonskyn, my koelteboom, my reën op 'n warm dag. My hemel, my wêreld, my sielsgenoot. Jy was my angelier, sonneblom, my lemoenpampoentjie.

(Hy stop vir 'n oomblik. Sonder om die stemming te verander of die fokus te breek, haal hy sy selfoon uit en skakel 'n nommer. As die persoon aan die ander kant antwoord:)

Lemoenpampoentjie! (Luister) 'n Politikus kon beter verskoning uitdink. Hou op twak praat en verduidelik vir my hoe die woord 'lemoenpampoentjie' in die klimaks van jou stuk beland het. (Luister, gegooi) Henk, jy is 'n award-winning skrywer en regisseur. Van wanneer af laat jy 'n producer besluit wat in jou teks staan? Dis 'n verhoogstuk. Producers verander nie aan verhoogstukke nie. (Luister, vies) Dit is 'n major issue. Dis die eerste keer in twee jaar wat Wynand en Amy mekaar sien. Hy't gedog sy's dood. Hy vind uit sy't hom verneuk. Sy hart is gebreek. Lemoenpampoentjie!? (Luister) Sentimentele woorde! Sê dit vir Amy! As Wynand haar 'n pampoen noem, is hy die een wat op die grond lê en stadig en aaklig doodgaan. (Luister, verloor sy humeur) Ek is nie moeilik nie. Lemoenpampoentjie pas nie. Dit is 'n stupid woord in 'n stupid teks. En as jy dink dit pas is jy 'n amateur skrywer en 'n patetiese regisseur en jou producer is 'n moroon en ek wil niks met julle te doen hê nie! (Hy beëndig die oproep en broei 'n paar oomblikke, onleesbaar. Dan skakel hy weer 'n nommer. As Henk antwoord:)

(Broos) Amelia het my gelos. (Luister) Vanoggend... Ek weet nie. Sy wil haarself vind... Ek het aangebied om te help soek, maar dit is iets wat sy "alleen moet doen". .. Ek is fine... Ek is fine... Oukei... Okei... Ek sal probeer... Dis fine... Nee, ek is jammer... Baai...

(Hy lui af. Tob 'n oomblik)

Ek het jou lief gehad. Met 'n... spesiale tipe liefde. Nie die gewone verliefdheid-liefde... of die oppervlakkige een-dag-per-persoon-liefde nie. My liefde vir jou was anders. 'n Liefde wat 'n leeftyd vat om te groei, al het ons mekaar vir 'n kort rukkie geken. 'n Vuurwerk-liefde, 'n kuier deur die nag tot die son opkom-liefde. (Somber) 'n Tot die dood ons skei-liefde. Ek het jou lief gehad met 'n spesiale liefde want jy was spesiaal. Jy was my sonskyn, my koelteboom, my reën op 'n warm dag. My hemel, my wêreld, my sielsgenoot. Jy was my angelier, sonneblom, my lemoenpampoentjie.

Jy was my alles. (Pouse) Ek was jou niks. Jy het gewoon geraak aan my en toe moeg geraak vir my en toe ontslae geraak van my. En nou is daar niks. Nou is ek alleen. En ek wonder wat ek verkeerd gedoen het, wat ek ander kon doen om ons verhouding te red. My kop is suf gedink, maar ek kry geen antwoorde nie. Ek wil vir jou kwaad wees, maar ek kan nie. Daarvoor het ons te veel goeie tye gehad. So nou is ek maar net hartseer. En alleen.

(Lang pouse)

Ek dink nog steeds dis 'n stupid woord. 

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)