If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Gertjie

(Met een sin geleen by Martjie de Jongh)

"Eaaaauuuueeeaaaaauuuuaaaa!", skreeu Tant Dorothy. Of iets wat amper so klink. Sy kyk in ongeloof na die speurders wat haar kind na die polisiemotor begelei. "Gertjie?" Sy klou krampagtig aan die blik soetkoekies wat sy vir Gertjie se tuiskoms gebak het, maar dan neem haar moederlike instinkte oor en sy storm na buite. Voor die speurders weet wat aangaan is Moeder Dorieby op hulle. Sy maai twee wreedaardig met haar koekblik af, skop een se wind uit en daag die oorblywende twee doodsveragtend uit tot 'n tweegeveg.

"Hou jou hande van my kind af", sê sy met 'n stem wat die wind-uit polisieman laat kreun en dié wat nog nie bewusteloos is nie, laat terugdeins. "Ek het 'n lasbrief vir sy arrestasie, Mevrou. En as jy nie vanaand in die tronk wil slaap nie, stel ek voor jy hou jou hande tuis". "Moenie jy vir my sê... (draai om) O hel." Toe Dorothy omdraai en in die loop van 'n pistool vaskyk, weet sy sy het verloor. "Ek moes 'n blêrrie koekroller gebruik het", brom sy. Die eienaar van die pistool vryf sy kop waar 'n knop begin vorm, maar haal nie sy oë van die lewensgevaarlike koekblikdraer af nie.

"Kan ek groet voor julle hom vat?", vra sy verwese. Die koekblikslagoffers vermoed dadelik 'n dramatiese ontsnappingspoging, maar die leier van die lot laat haar begaan. (Kniel by die deur) "Wat het jy gedoen, my kind." (As Gertjie) "Ek is jammer ma. Maar dis hoe dit is. Dit was 'n team effort. En ek split nie op my buddies nie." (As Dorothy) Twak! Waar's jou buddies nou? En as jy in die tronk sit. Wat gaan hulle doen. Vir jou verlang? Vir jou kom kuier? As daai judge vir jou vra wie dit gedoen het, dan gee jy vir hom elke blikskottel se naam en van en adres en onderbroek size en jy hou niks terug nie. Hoor jy vir my, Gerhardus Strydom? (Pouse, verwese) Gertjie?" Gertjie het net weggedraai sodat sy nie die trane kon sien nie. "Ek is jammer ma. Maar dis hoe dit is."

Lank daarna sit Dorothy op die stoeptrappie en rook nog 'n sigaret. Die buurt het lankal stil geraak maar sy het nie lus vir slaap nie. Sy dink aan Gertjie se skooldae. Sy atletiekbyeenkomste. Sy rugbywedstryde... Hy was altyd 'n bietjie bang vir seerkry. Sy sangkompetisie: Vir die beoordelaars het hy geklink soos 'n kruising tussen morse-kode en 'n kruiwawiel wat olie kort. Vir Dorothy was dit 'n engel... wie se stem 'n bietjie hier en daar breek... maar 'n Engel nietemin. En vandag het sy hom afgestaan aan die donker wolk wat nog altyd bokant haar buurt hang. Sy het gehoop hy sou die vloek vryspring, maar helaas... sy was nie so gelukkig nie. En ten spyte van wat haar moederlike instinkte vir haar sê weet sy, vandag het sy vir Gertjie totsiens gesê. "Ai Gertjie"

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)