If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Kaïn en Abel

Albert doen 'n moeilike som. Hy praat met homself terwyl hy verwoed tussen sy sakrekenaar en boek wissel.
Albert: (Op sakrekenaar) Sewe minus vyf punt twee... is gelyk aan... kwadraat... (Skryf) drie punt twee vier.
Karel ongemerk in, hou hom 'n oomblik dop.
Albert: (Op sakrekenaar) Vier minus vyf punt twee... is gelyk aan... kwadraat. (Skryf) Een punt vier vier. (Terloops) Ook toevallig die kapasiteit van 'n stiffie disk.
Karel gegooi. Albert steeds onbewus.
Albert: (Op sakrekenaar) Agt minus vyf punt twee...
Karel: Albert.
Albert: (harder) is gelyk aan... (Skryf) Sewe punt agt vier.
Karel: Albert!
Albert: (harder, geïrriteerd) Drie minus vyf punt twee...
Karel: Halloooo!
Albert: (Nog harder) Is gelyk aan... kwadraat...
Karel: Albert! Fokus!
Albert: (Vies, lees op sakrekenaar) Sewe miljoen, vierhonderd en vyftig duisend, driehonderd agt en twintig! (Aan Karel) Wat wil jy hê?
Karel: Ek wil jou iets vra.
Albert afwagtend, vies.
Karel: Wat?
Albert: Vra jou vraag! Ek's besig.
Karel: Met IT of met Wiskunde?
Albert gee kyk.
Karel: Oukei. Ek het gewonder. As jy een superpower kon gehad het, wat sou dit wees?
Albert: Seriously?
Karel: Antwoord net die vraag.
Albert: Onsigbaarheid.
Karel: (Gegooi) Rêrig? Wil jy onsigbaar wees?
Albert: Nee. Ek wil 'n superpower hê wat jou kan onsigbaar maak.
Karel: Hoekom?
Albert: Sodat ek my Wiskunde-huiswerk kan doen sonder dat jy my pla.
Karel: Dude, dis nie hoe invisibility werk nie. Jy kan nog steeds mense voel en hoor en stuff.
Albert: (Kwaad) Ek gee nie om nie! Ek wil hê jy moet padgee uit my lewe uit! Ek soek net vir 'n oomblik rus en vrede!
Karel: (Blerts) Griselda het my gelos.
Albert: (Wind uit sy seile) Wat?
Karel: Yup. Dis suck.
Albert: Sorrie. Ek het nie geweet nie. (Besef) Ek het nie eers geweet julle date nie.
Karel: Vir 'n broer weet jy maar baie min van wat in my lewe aangaan.
Albert: Jammer. Hoe lank het julle gedate?
Karel: Ons het nie.
Albert: Hoe nou? Ek dog jy sê sy't jou gelos.
Karel: Soort van. (Verduidelik) Ek hou baie van haar. So toe follow ek haar op Instagram. En Facebook. En Twitter. En by die skool.
Albert: Dis creepy.
Karel: Sy't dit nie eers agter gekom nie. Nie dat dit saakmaak nie. Dis verby tussen ons.
Albert: Sê wie?
Karel: (Hartseer) Haar boyfriend.
Albert verwerk, sug, skuif sy boeke weg.
Albert: Sit. Begin by die begin.
Karel gaan sit.
Karel: Daar's nie veel om te sê nie. Die girl van my drome het iemand anders lief. Nie omdat ek iets verkeerd gedoen het nie. Nee, ek's net onsigbaar. (Wrang) Lyk my jou superpower werk al lankal.
Albert: Ek was nie ernstig nie.
Karel: Maar dis die waarheid.
Albert kry papier, trek 'n lyn in die middel (van bo na onder).
Karel: Wat doen jy?
Albert: Ons gaan jou probleem wetenskaplik benader.
Karel: Liefde is nie 'n Wiskunde som nie, Albert.
Albert: Wag. Ek weet wat ek doen. Vraag een: Hoekom hou jy van Griselda?
Karel: Duh. Sy's amazing!
Albert: Wees spesifiek.
Karel: (Dink 'n oomblik) Sy's mooi.
Albert: (Skryf) Oukei. Mooi. Maar daar's baie mooi meisies. So sy moet iets spesiaal hê.
Karel: Sy hou van MacGuyver. En Angela Lansbury.
Albert: (Skryf) Ek gaan nie eers vra hoe jy dit weet nie.
Karel: (Ignoreer) En sy is 'n amazing danser. Sy't kompetisies gewen en alles.
Albert: (Skryf) Danser. Wenner. Oukei. Wat nog?
Karel: En sy was gebore op Cradock.
Albert: Wag 'n bietjie.
Karel: (Onbewus) Het ek gesê sy is beeldskoon? 'n Engel uit die hemel uit. Die mooiste meisie in Suid-Afrika. Nee, die wêreld.
Albert: Dude!
Karel terug na werklikheid.
Albert: MacGuyver. Angela Lansbury. Danser. Cradock. Jy't 'n crush op Ma!
Karel: (Gryp papiertjie) Moenie twak praat nie! Waar kom jy... (besef Albert is reg) Whaaat?
Albert: Ek's nie 'n sielkundige nie, maar die enigste rede hoekom jy van Griselia hou...
Karel: Griselda.
Albert: Die enigste rede hoekom jy van Griselda hou is omdat sy jou aan Ma laat dink.
Karel: Rêrig? (Skielik bekommerd) Is dit weird?
Albert: Glad nie. My eerste meisie was ook 'n danser.
Karel: Maar is dit hoekom sy my gelos het?
Albert: Sy't jou nie gelos nie. En nee, dis nie hoekom sy van iemand anders hou nie. Maar ons moet uitfigure hoekom jy so spesifiek is. Hoekom soek jy 'n meisie soos Ma?
Karel: (Asof dit 'n dom vraag is) Want Ma is die vrou wat ek die langste ken. En die enigste een wat my al ooit gebad het.
Albert: Oukei. Goeie punt. Maar is dit jou enigste rede?
Karel: Want as my meisie soos Ma is, sal ek meer (besef soos wat hy praat) soos Pa wees.
Albert: (Verstom) Wow. Daai is wysheid wat ek nie van jou verwag het nie.
Karel: Hoekom wil ek soos Pa wees?
Albert: Goeie vraag. Julle baklei meer as Kain en Abel.
Karel: Presies! Omdat ek nie soos hy wil wees nie.
Albert: Is dit regtig die enigste rede?
Karel: Ek weet nie.
Karel huiwer.
Albert: Wat pla jou, Karel?
Karel: Ek het jou mos gesê. Griselda het...
Albert: (Onderbreek) Rubbish. Hierdie gaan nie oor Griselda nie. Daar's iets anders wat jou pla.
Karel: Daar is nie.
Albert: Ek is nie stupid nie, Karel! Wat is dit wat...(jou pla)
Karel: (Blerts) Ek voel soos 'n failure.
Albert onkant betrap.
Karel: (Ontsteld) Ek voel soos een helse mislukking, oukei? Niks wat ek doen is goed genoeg nie. Ek kan nie met enigiemand kompeteer nie. Al die ander mense is so goed in alles wat hulle doen... Selfs my beste pogings is so mediocre dat niemand dit raak sien nie.
Albert: (Dink 'n oomblik) Oukei. Ek dink jy moet perspektief kry. Eerstens, jy is nie die enigste mense wat soos 'n failure voel nie. Ek voel partykeer ook so.
Karel: (Lag wrang) Asseblief! Jy maak 'n sukses van alles wat jy aanpak. Alles waaraan jy vat verander in goud.
Albert: Dit voel nie altyd so nie. En tweedens... Niemand verwag van jou om 'n eerste plek in enigiets te kry nie.
Karel: Exactly! Hulle verwag dit van jou. Almal het moed opgegee met my.
Albert: (Probeer ander benadering) Oukei. Kom ons praat oor een van jou en Pa se fights.
Karel: Watter een? Daar's honderde.
Albert: Kies jy een.
Karel: Uhm... Die een in April. Toe ek moes kies wat ek wou swot.
Albert: (Verbleek effe) Nie daai een nie. Kies 'n ander een.
Karel: Hoekom?
Albert: Sommer. Dis nie 'n goeie voorbeeld nie.
Karel: Wat's fout met studies-fight?
Albert: (Hap effe) Ek sê kies 'n ander een.
Karel: (Gegooi) Oukei. Geez. Relax net. (Dink 'n oomblik) Toe ek my kamer se muur wou verf.
Albert: Dis 'n goeie voorbeeld. Waaroor het julle baklei?
Karel: Jy weet mos. Wat probeer jy sê?
Albert: Antwoord net my vraag.
Karel: Ek wou my muur swart verf en Pa wou dit wit or beidge maak.
Albert: En het jou punte of sportuitslae of pryse ooit in die gesprek opgeduik?
Karel: (Verward) Nee...
Albert: En toe julle klaar baklei het, wat het gebeur?
Karel: Pa het gewen. Obviously.
Albert: En daarna?
Karel: Toe niks. Toe verf ons die kamer beidge.
Albert: (Triomfanklik) Presies!
Karel: Jy maak nie sin nie, Albert.
Albert: Dis obvious. Pa gee nie om oor jou prestasies nie. En al stamp julle elke dag kop... Julle't nog steeds saam daai kamer geverf. Jy en Pa doen meer goed saam in 'n week as wat ek en hy in 'n jaar doen.
Karel: Dit laat my nie minder soos 'n failure voel nie.
Albert: (Net te passievol) Die enigste rede hoekom jy so voel is omdat jy self daai pressure op jou sit. Maar hier's die waarheid: Niemand gee om nie! Hulle voel 'n veer!
Karel: Dude, kalmeer.
Albert: (Op 'n roll) Jy kan elke moontlik prys wen. Jy kan 'n onderskeiding in elke vak kry. Jy kan eerstespan in elke flippen sport in die skool speel! Dit beteken niks! Dit gaan nie maak dat jou pa saam met jou 'n muur wil verf nie!
Karel: Praat ons nog van my?
Albert: (Hap) Ja! Wie anders?
Karel: (Besef) Is jy jaloers op my en pa?
Albert: (Uitgevang, slaan toe) Ek het huiswerk om te doen.
Karel: Nee. Ons gaan hierdie ding uitpraat.
Albert: Ek't niks om vir jou te sê nie.
Karel: Hoekom wil jy nie oor my en pa se studie-fight praat nie?
Albert: (Dreigend) Ek sê: los dit, dêmmit!
Karel: (Effe lelik) Was dit omdat niemand met jou wou baklei omdat jy wou medies swot nie? Het jy afgeskeep gevoel?
Albert: Nee...
Karel: Ek is jammer ek het nie van die begin af geweet wat ek wou doen nie. Ek is jammer dat Pa meer tyd aan my keuses spandeer het as aan joune.
Albert: Dis nie waaroor dit gaan nie.
Karel: (Kwaad) So hoekom het jy ons nie gejoin nie! As jou opinie so belangrik was, hoekom het jy nie net jou mond oopgemaak nie!? Maar nee, jy't seker weer in jou kamer gaan sit en sulk en...
Albert: (Hiperontsteld) Ek was daar!!
Stilte.
Albert: Ek was reg langs jou. Maar julle ego's was so groot. Julle behoefte om reg te wees... om die laaste sê te sê was so groot dat julle my nooit raakgesien het nie!
Karel: (Kalmer) Ek verstaan nie hoekom jy so kwaad is nie, Albert.
Albert: (In trane) Ek het my uitslag gekry. Ek was gekeur. Ek kon by een van die beste universiteit in die land medies swot.
Karel: Ek... Ek't nie geweet nie.
Albert: (Seergemaak) Natuurlik nie. Ek het vier keer vir Pa gesê, maar hy was doof. Al wat op daai oomblik saak gemaak het, was jy.
Karel voel soos 'n hond.
Albert: As jy 'n vraag het, is Pa die eerste een wat jy vra. As jy kwaad is, is hy die eerste een wat weet. (Lag hartseer) As jy lus is vir 'n fight, is hy gereed vir jou. Maar jy's nie onsigbaar nie. Jy is closer aan Pa as wat ek ooit sal wees. En geen pryse of uitslae of keuring by enige universiteit gaan dit verander nie.
Karel: Jammer... Ek...
Albert: (Wrang) Jy was reg, Karel. Liefde is nie 'n Wiskundesom nie. (Ruk hom reg) Maar as ek nie nou hierdie huiswerk klaarmaak nie, gaan ek nie vannag slaap nie.
Karel: Albert...
Albert: (Ignoreer) Drie minus vyf punt twee...Is gelyk aan... en kwadraat...
Albert begin weer op sakrekenaar werk. Karel staan 'n oomblik verwese en toekyk, sug dan en loop.

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)