If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Nicky gaan Kaap toe

Nicky is nie baie slim nie, maar sy weet wanneer sy goud gevind het. En vandag het sy goud gevind. Die edelmetaal se naam is Jean-Pierre Au revoir en hy het van Frankryk Suid-Afrika toe gekom. En hy het liefgeraak vir iemand. Vir haar.

Nicky het nie baie vriende nie. Eintlik het sy geen vriende nie, behalwe as jy vir Adiosan in gedagte hou. Adiosan is 'n Nigeriese prins wat vreeslik verlief is op Nicky. Maar hy is ontvoer deur mensehandelaars en Nicky moet twintigduisend rand betaal om hom los te kry. Hy het Nicky baie geld belowe as sy hom bevry, maar Nicky het nie twintigduisend rand nie. En geld is nie vir haar belangrik nie. Sy soek net iemand om haar lief te hê.

So sy het Adiosan ondersteun in sy moeilike tyd, maar sy briewe het effe aggresief geraak. Veral toe hulle hom begin martel het. Die losprys het wonderbaarlik afgekom na tienduisend toe, maar op haar sakgeld sal Nicky nooit die bedrag kan bekostig nie.

Haar ouers is nooit getroud nie en sy het nooit haar Pa geken nie. Haar Ma werk lang ure om die pot aan die kook te hou, so Nicky moet maar haarself besig hou. By die skool sit sy pouses in die mediasentrum en wegkruip, want dié ding met haar intelligensie maak dat mense die res van haar persoonlikheid ook sommer as minderwaardig veroordeel. In die middae ontdek sy wonderlike mense en wonderlike dinge op die Internet. As die regte lewe net so wonderlik kon gewees het.

As Nicky 'n wildsbokkie op die skoolgronde was, was Tanya Geldenhuis en Fiona Williams die roofdiere. Dié twee meisies was baie kreatief en kon in 'n jaar driehonderd vyf en sestig maniere kry om Nicky te verneder. Een meer in skrikkeljaar. In kort, Nicky was nie gelukkig nie. Tot Jeanne-Pierre in die prentjie verskyn het.

Jeanne-Pierre het blonde hare en blou oë en hy is beeldskoon. En hy het 'n six pack. (Nicky het 'n bietjie meer van 'n voller figuur.) Sy ouers het van Frankryk af na Suid-Afrika getrek. Soos Nicky, is hy sielsongelukkig by die huis en wil met alle mag wegloop. Na laat nagte se kuier op die Internet, het Jeanne-Pierre met die wonderlike plan vorendag gekom: Hulle twee sou wegloop. Hy het 'n groot klomp geld by sy ma-hulle gekry en sou hulle vir 'n paar maande in Kaapstad kon onderhou. Dan sou hulle werk kry en gelukkig saamwees. Jeanne-Pierre se familie het baie geld. Nicky het vir 'n oomblik oorweeg om hom te vra of hy nie vir Adiosan wil loskry nie, maar wou nie hê twee mans moet oor haar baklei nie.

Sy het toe maar 'n brief vir Adiosan geskryf om simpatie met sy situasie te betoon, maar mooi verduidelik dat sy nie kan help nie. Hy moet tog maar in die toekoms versigter wees as daar gerugte van ontvoerders in die omgewing is en miskien ophou om 'n prins te wees. Sy is nie 'n prinses nie en niemand het haar al probeer ontvoer nie.

Jeanne-Pierre se instruksies was duidelik. Sodra haar Ma slaap, moet sy 'n bolt cutter gebruik om die diefwering van haar venster te knip. (Hy het nie gesê hoekom sy nie by die voordeur mag uitloop soos 'n normale mens nie, en sy het nie gevra nie.) Hy sal haar agter die boom op die sypaadjie inwag. Hulle sal saam na die busstasie stap en die lang tog na vryheid aanpak. Dan sal sy wat Nicky is, vir die eerste keer in haar lewe, gelukkig wees.

Sy het nie 'n bolt cutter gehad nie, so sy het maar een uit die tegniese klas by die skool gesteel. Sy het reeds die middag die diefwering geknip. In die donker klim sy by die venster uit, tas in die hand. Dit gaan effe moeilik met dié dat sy 'n lyf en 'n ts het, en sy val in die blombedding. Toe hoor sy die gegiggel. Toe sy opkyk, sien sy nie vir Jeanne-Pierre nie. Sy sien vir Tanya Geldenhuis. En Fiona Williams. En Ronel. En Mariska en Linda en Sandra en Jo-Ann en Lee-Ann en vyf ander meisies wat sy nie ken nie. Elkeen met 'n selfoon in die hand, besig om haar af te neem.

"Nicky. Vertel ons meer van hierdie geheimsinnige kêrel, Jean-Pierre au revoir", hoor sy Tanya se smalende stem. Nicky is nie slim nie, maar sy weet dadelik: Daar was geen Jeanne-Pierre nie. Dit was Tanya en Fiona en die hele skool aan wie sy haar donkerste en diepste geheime vertel het. Sy gaan nie vanaand Kaap toe nie. En toe doen Nicky wat enige ander meisie in haar posisie sou doen. Sy gaan sit op haar tas en begin bitterlik te huil. 

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)