If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Vir die wolwe gegooi

'n Jong meisie sit op die grond en staar verwese voor haar uit. Dan begin sy saggies te lag.

Jy't my om die bos gelei, Alfred. Jy't my verraai. (Pouse) Ek was nog altyd die streetwise meisie. Die skeptiese een wat niks en niemand vertrou het nie. Maar hierdie... hierdie het ek nie sien kom nie. (Pouse. Dan, asof hy nie luister nie) Ek het vir jou geval, Alfred! Totaal en al. Daarsy, ek het dit erken. (Broos) Ek het vir jou geval.

Elke meisie wat al verlief was, kan daai eerste ontmoeting onthou. En tog, ek wonder of hulle almal soos ek gevoel het. Jou oë het my 'n vuishou in die maag gegee. Ek, wat alles koud en klinies analiseer en besluite op risiko's baseer. Ek was verlore. Ek kon nie praat nie. Ek kon nie dink nie. Jy kon met my maak wat jy wou. En jy het.

Ek moet toegee, Alfred. Jy't die game gespeel. Jy't die game soos 'n meester gespeel. Jy was sterk as ek jou nodig gehad het, teer as ek broos was. Jy was altyd daar, altyd beskikbaar. Jy het my gekomplimenteer op alles waaroor ek onseker gevoel het. Ek het geleer om myself lief te hê. Ek het vrede gemaak met my vrese, ek het uiteindelik my agterdog afgesweer. Vir die eerste keer in my lewe was dit nie meer vir my nodig om sterk te wees nie. Want jy was daar. My rots. My veilige hawe.

Min het ek geweet dat dit alles deel van die plan was. Jy het die regte knoppies gedruk en ek het gereageer soos wat jy verwag het. Al die eienskappe wat ek so verag het in jong, naïewe meisies - dit het ek deel van my karakter gemaak. Hoeveel keer het jy nie in jou mou gelag as jy na my patetiese liefdesgebare gekyk het nie! As jy gesien het hoe blind ek was vir jou motiewe en my eie naïwiteit. Van jongs af het ek myself belowe dat ek nooit in hierdie slaggat sal trap nie... en kyk nou.

Nou is ek hier. Jy het my in hierdie donker gat ingelei met jou sjarme vir aas. En voor ek die lig kon sien is jy weg. Saam met jou het jy die buit en my hart geneem, maar vir my het jy agter gelaat. So hier sit ek nou en betaal vir my sondes en jou sondes. Maar die grootste prys wat ek betaal is vir my kinderlike geloof in 'n gewetenlose monster.

Jy het my verraai, Alfred. Ek betaal duur vir hierdie les, maar dis 'n les wat ek nie sal vergeet nie. So hardloop, Alfred. Hardloop vinnig en ver en kruip weg. Want uit hierdie lam wat jy geslag het sal 'n leeu voortkom. Uit die as wat van haar oorgebly het, sal 'n draak soos 'n phoenix verrys.

En dan is geen land te ver of geen gat te diep vir jou om weg te kruip nie. Want as sy losgelaat word, is daar geen mens of dier, geen skuilplek of toring wat jou van haar wraak sal red nie. Sy sal jou vind en haar toorn met die vuur van 'n duisend helle teenoor jou laat ontvlam. Jy sal sidder en huil en smeek, maar jy sal sien dat haar hart van klip is en haar wil van staal!

En jy sal sterf, Alfred. Jy sal sekerlik sterf. Want jy het haar pêrels voor die varke gegooi... en haar hart vir die wolwe. 

 

Kopiereg © Johann Smith. (Met sy vergunning geplaas.)