If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Die Rooi Hen (Laerskool Pretoria-Oos)

Link to theDie Rooi Hen Prezi(to help you tell in by yourself).


Daar was eendag 'n varkie, 'n kat, 'n eend en 'n klein rooi hennetjie, wat saam in 'n huisie gewoon het. Die varkie, die kat en die eend was baie lui en wou nooit met die werk in en om die huis help nie. Dus moes die klein rooi hennetjie alles self doen.

Op 'n dag, toe die klein rooi hennetjie die tuin hark, vind sy saadjies. "Wie help my om hierdie graankorrels te plant?" vra sy.

"Nie ek nie," sê die varkie.
"Nie ek nie," sê die kat.
"Nie ek nie," sê die eend.

"Dan sal ek dit self doen," sê die klein rooi hen. En dit doen sy toe.

Sommer gou-gou groei die graan en kry 'n pragtige goue kleur. "Wie wil my help om die graan te maai?" vra die klein rooi hennetjie.

"Nie ek nie," sê die varkie.
"Nie ek nie," sê die kat.
"Nie ek nie," sê die eend.

"Dan sal ek dit self doen," sê die klein rooi hen. En dit doen sy toe.

Toe die graan gemaai is en klaar was om tot meel gemaal te word, vra die klein rooi hen: "Wie wil my help om die graan na die meule te bring?"

"Nie ek nie," sê die varkie.
"Nie ek nie," sê die kat.
"Nie ek nie," sê die eend.

"Dan sal ek dit self doen," sê die klein rooi hen. En dit doen sy toe.

Toe die meel van die meule terug kom, vra die klein rooi hennetjie: "Wie wil my help om brood van die meel te bak?"

"Nie ek nie," sê die varkie.
"Nie ek nie," sê die kat.
"Nie ek nie," sê die eend.

"Dan sal ek dit self doen," sê die klein rooi hen. En dit doen sy toe. Sy maak deeg van die meel. Sy knie die deeg tot 'n brood en sy bak dit in die oond.

Toe die brood gebak is, neem sy dit uit die oond. Mmmmm! Dit ruik so lekker!

"Wie wil my help om die brood op te eet?" vra die klein rooi hennetjie.

"Ek sal," sê die varkie.
"Ek sal," sê die kat.
"Ek sal," sê die eend.

"O nee, hoor, daarmee gaan julle my nie help nie!" sê die klein rooi hennetjie.

"Ek het die saadjies gevind. Ek het dit geplant. Ek het die plantjies water gegee en die graan ge-oes. Ek het die graan na die meule gebring. Ek alleen het brood van die meel gemaak en nie een van julle drie het my gehelp nie. Ek het alles self moes doen en nou gaan ek die brood alleen self opeet."

En dis toe presies wat sy gedoen het.