If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Prinses Pippie en Stout Floorsie

In die groot grys kasteel op die rand van die donker bos, woon Prinses Pippie saam met die koning en koningin.  Mnr Claudius woon ook daar.  Mnr Claudius is Prinses Pippie se teddiebeertjie, en hulle twee doen alles saam.  Oral waar Prinses Pippie gaan, gaan Mnr Claudius saam.  Mnr Claudius slaap saans op Prinses Pippie se kussing, en elke oggend borsel hy ook met haar tandeborsel sy tandjies.  Hy eet uit Prinses Pippie se bord, en hy drink uit Prinses Pippie se glas.  Wanneer Prinses Pippie saam met die koning en die koningin in die blink kar ry, sit Mnr Claudius op haar skoot sodat hy by die venster kan uitkyk.

Op 'n dag lui die telefoon in die kasteel se gang.  Dit is Tannie Bettie, die koningin se heel beste vriendin.  Sy wil vir die koningin 'n gunsie vra.

"Mag klein Floorsie asseblief vir drie dae by julle in die kasteel kom bly?" vra Tannie Bettie. "Ek moet dringend weggaan en ek kan hom nie alleen los nie."

Floorsie is nie 'n seuntjie of 'n teddiebeertjie nie.  Floorsie is Tannie Bettie se klein, bruin worshondjie.  Floorsie gaan oral waar Tannie Bettie gaan.  Soms, eet hy uit haar bord... En soms, drink hy uit haar glas... Maar hy het sy eie tandeborsel en sy eie bedjie.  En wanneer Tannie Bettie iewers heen ry in haar rooi motor, sit klein Floorsie langs haar op die voorste sitplek sodat hy by die venster kan uitkyk.

"Natuurlik kan jy vir klein Floorsie by ons kom los!" sê die koningin. "Die arme dingetjie.  Ek is seker Prinses Pippie sal sommer baie lekker met hom speel."

Maar toe Tannie Bettie vir klein Floorsie by die kasteel kom aflaai, weet Prinses Pippie sommer dat sy glad nie lekker met die hondjie gaan speel nie.  Toe Floorsie vir Prinses Pippie sien, spring hy teen haar been op, en gryp die punt van die strikkie in haar hare!  Hy trek die strikkie los, en hardloop daarmee weg.

"Haai, stoute Floorsie!" roep Prinses Pippie kwaai. "Kom terug!"

Maar Floorsie kom nie terug nie.

Later daardie oggend in Prinses Pippie en Mnr Claudius besig om in die tuin te speel.  Prinses Pippie het vir Mnr Claudius op die takkie van 'n boom sitgemaak, en nou probeer sy hom raakgooi met klippies.

"Prinses Pippie!" roep die koningin. "Kom haal tog vir Floorsie en dan speel jy si 'n bietjie met hom, toe.  Hy is verveeld."

Prinses Pippie sug, maar sy gaan haal die hondjie.  Floorsie se stertjie waai bly, en sy lyfie wriemel.

"Floorsie," sê Prinses Pippie. "Wil jy op die takkie sit sodat ons jou met klippies kan gooi, of wil jy eerder saam met my klippies na Mnr Claudius toe gooi?  Wat kies jy?"

Maar Floorsie blaf twee keer hard.  Dan spring hy teen die boompie op, gryp vir Mnr Claudius in sy bek, en hardloop met hom weg.

"Haai, stoute Floorsie!" skree Prinses Pippie kwaai. "Bring terug vir Mnr Claudius!  Nou dadelik!"

Maar Floorsie bring nie vir Mnr Claudius terug nie.  Prinses Pippie soek orals, en later daardie middag kry sy vir Mnr Claudius in die wasgoedmandjie tussen die wasgoed.

"Mnr Claudius!" sê Prinses Pippie. "Arme Mnr Claudius!  Stout Floorsie het jou ontvoer, en jou hier kom wegsteek sodat ek jou nie sal kry nie, né?  Ek sal sy boedjies wiks as ek hom vang, daardie stoute hondjie!"

Die volgende oggend speel Prinses Pippie en Mnr Claudius in die kamer.  Prinses Pippie is besig om vir Mnr Claudius grimering aan te sit.  Sy sit lipstiffie aan sy lippies en vryf dan bietjie daarvan aan sy wangetjies ook.  Dan smeer sy blou oogskadu aan sy ogies.  Nou lyk Mnr Claudius sommer spiekeries!

"Prinses Pippie!" roep die koningin uit die kombuis. "Kom haal gou vir Floorsie toe, dat ek die vloer kan was?  Speel so bietjie met hom, toe!"

Prinses Pipppie sug diep, en dan gaan haal sy maar vir Floorsie.  In die kamer sê sy:

"Floorsie, luister mooi.  Dis nou eers Mnr Claudius se beurt om grimeer te word, hoor jy?  Jy sal moet wag vir jou beurt.  Jy kan solank in die wagkamer sit en 'n tydskrif deurkyk terwyl ek net gou Mnr Claudius se hare klaar mooimaak.  Dan sal ek jou ook grimeer, hoor jy?"

Maar Floorsie wil nie deur die tydskrif blaai wat Prinses Pippie vir hom uithou nie.  Hy spring teen die stoeltjie op en gryp vir Mnr Claudius in sy bekkie.  Voor Prinses Pippie kan keer, hardloop Floorsie met Mnr Claudius by die deur uit!

"Haai, Stout Floorsie!" gil Prinses Pippie. "Gee terug Mnr Claudius!  Gee terug!"

Sy hardloop agter Floorsie aan, maar hy is te vinnig.  'n Hele ruk later kry Prinses Pippie vir Mnr Claudius in die badkamer.

"Daardie Stoute Floorsie!" sê sy. "Hy kan nie wag vir sy beurt nie, né Mnr Claudius?  Ek sal vir hom 'n les moet leer!"

Daardie aand toe Prinses Pippie moet bed toe gaan, is Mnr Claudius weg.  Sy soek onder die bed en in die kas.  Sy kyk ook in die wasgoedmandjie en in die badkamer, maar Mnr Claudius is nêrens.  Uiteindelik kry sy vir Floorsie in die sitkamer, waar hy met sy twee voorste pootjies bo-op Mnr Claudius se lyfie lê en televisie kyk.

"Jy is stout, stout, stout, hoor jy Stout Floorsie!" raas Prinses Pippie. "Mnr Claudius is MY beertjie, en hy slaap by MY!  Ek sal vir jou 'n les moet leer."

Prinses Pippie vat toe vir Mnr Claudius onder die een arm en vir Stout Floorsie onder die ander arm.  Sy stap na die klein stoorkamertjie toe, en maak vir Floorsie daarin toe.  Dan vat sy vir Mnr Claudius, en gaan klim in die bed.

Die volgende oggend soek almal in die kasteel na klein Floorsie, maar hy is weg.  Hulle roep en roep, maar hy kom nie.

Prinses Pippie is baie tevrede.  Nou sal sy en Mnr Claudius in rus en vrede kan speel, en daar sal nie 'n klein hondjie wees om hulle te pla nie.  

Maar iets is fout met Mnr Claudius vandag.  Eers wil hy nie uit Prinses Pippie se bord eet nie.  Hy sit net daar.  En graanvlokkies is dan sy gunsteling!  Prinses Pippie kan dit glad nie verstaan nie.  Maar dan wil Mnr Claudius ook nie uit Prinses Pippie se glas drink nie.  Nie eens van haar sjokkolade melk nie!

"Wat is fout, Mnr Claudius?" vra Prinses Pippie. "Voel jy dan nie lekker vandag nie?"

Maar Mnr Claudius wil nie met Prinses Pippie praat nie.  Hy staar net voor hom uit en sê niks.  In die badkamer wil hy ook nie sy tande borsel nie.  En toe hulle later in die koning se blink kar na die mark toe ry, wil Mnr Claudius nie regop op Prinses Pippie se skoot sit nie.  Hy val sommer om.

"Iets is fout met Mnr Claudius," sê Prinses Pippie vir die koningin. "Kyk net hoe dof is sy ogies vandag."

Later daardie oggend speel Prinses Pippie en Mnr Claudius in die tuin, maar Mnr Claudius wil nie op die takkie sit sodat Prinses Pippie hom met klippies kan gooi nie.  Hy val elke keer af en dan bly hy sommer op die grond lê.

"Daar is fout met Mnr Claudius," sê Prinses Pippie vir die koning. "Hy wil nie meer in die tuin speel nie."

En daardie middag toe Prinses Pippie vir Mnr Claudius grimering wil aansit, gly hy van die stoeltjie af.  Elke keer.  Prinses Pippie sug.

"Ek weet nie wat is fout met Mnr Claudius nie," sê sy vir Michelle, die diensmeisie. "Hy wil nie speel nie en hy wil nie praat nie en hy wil nie eet nie."

Michelle dink so 'n bietjie.  Dan sê sy:
"Ek wonder of Mnr Claudius nie ook wonder wat van klein Floorsie geword het nie," sê sy dan. "Dink jy nie hy verlang dalk na die hondjie nie?  Het ek my verbeel, of het ek netnou 'n hondjie hoor blaf daar in die stoorkamertjie, hmmm?"

Prinses Pippie frons.  Sy loer na Mnr Claudius en Mnr Claudius loer na haar.  Dit IS nogals bietjie stillerig sonder stout Floorsie.  En dit is nogals bietjie VERVELERIG sonder hom ook.

Prinses Pippie wip op en gaan maak die deur vir klein Floorsie oop.  O, en is die hondjie nie bly om hulle te sien nie!  En is Mnr Claudius nie bly om vir klein Floorsie te sien nie!

Prinses Pippie maak twee bakkies pap.  Een vir haar en een vir Floorsie.  En kan jy dit glo?  Daar eet Mnr Claudius sowaar saam met Floorsie uit sy bordjie!

Nou is Prinses Pippie baie verlig.  Vir die res van die oggend speel hulle drie tog te lekker.  Sy en Mnr Claudius en klein Floorsie.  Hulle speel so lekker dat sy sommer hartseer is toe Tannie Bettie weer vir Floorsie kom haal.

"Jy moet weer by ons kom kuier, hoor jy Stout Floorsie?" sê Prinses Pippie, toe sy vir Floorsie in die rooi kar op die voorste sitplek laai. "Anders sal Mnr Claudius jou heeltemal te veel mis!"

(Note: If you purchase the stories, this transcription does not come with the audio.)