If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Die saad van alle kwaad

deur Jan Schaafsma

Ur snuif aan die vars lug buite die grot en hoor hoe hoes almal binne van die rook.

“Kom terug met ’n bok,” kyf sy wyf. “Ek’s lus vir vleis. Jou gras is goor.”

Ur kyk na sy aanplanting op die gelyk grond langs die stroompie. Wat kla Akka so? Die sade lyk goed. Die vrouens kan dit maal en genoeg platbrode vir ’n jaar bak.

Sy verstaan nie. Wil die vroue kos bly versamel? Moet hy aanhou jag?

Anderkant die gras trek ’n stofstreep Ur se aandag. Sy oë vernou. As dit trekkers is, sal hulle dalk ’n bok vir Akka se lekker platbrode ruil. Die bok sal melk gee, en dan’s daar nog minder rede om self te trek.

Hy sal net moet keer dat die trekkers se bokke sy gras opvreet! Hoe gaan hy hulle laat verstaan dis sý gras, nie almal s’n nie? Miskien moet hy klipmure rondom die gras pak. Daar’s wild wat ook kom vreet.

Ur kyk na die wolke. Vorige jare het dit gewoonlik nou al begin reën en was dit nie nodig om water na die gras toe te dra nie. Dis harde werk. Die meeste lek deur die leersak voor hy daar kom. Wat as hy hoër in die stroompie op ’n sloot soontoe grawe? Hy kan klippe in die stroom gooi sodat die water opdam. Dis klipperige grond, sy graafstok sal nie werk nie. Wat kan hy gebruik? Been? Klip?

Ur krap aan die luise in sy hare en stap na die klip waar almal gaan hurk om te druk. Hy let weer op hoeveel weliger die onkruid hierso groei. Sorg die poep vir die geiler groei? Sê nou hy gooi van die poep tussen sy gras? Jegh! Dan gaan die gras mos na poep smaak.

Ur skud sy kop. Hy voel skoon suf van al die vrae. Die lewe is moeilik, en op sy eie kan hy ook maar net sóveel doen. As daar meer hande was, sou hulle baie meer kon regkry. Die klippe vir die mure pak. Nog grond skoonmaak vir baie meer gras.

Miskien sal sommige van daardie trekkers eerder hier wil aanbly. Die grot is vol – hulle sal hutte moet bou. Hy sal vir hulle moet wys waar, want die riviertjie oorstroom as dit hard reën. As hier baie mense is, sal hý hul hoofman wees. Ur glimlag by die gedagte.

Ja, Ur. Só het alles begin. ’n Bok vir ’n brood is nou wêreldwye handel; ’n dammetjie en sloot verstommende ingenieurswese; ’n klipmuur begrens private eiendom; ’n hoofman het ’n regering geword; ’n paar hutte ’n stad met miljoene inwoners.

Die aarde se einde is ingelui toe jy die natuur na jou behoeftes begin aanpas het. Jy het die teelaarde geskep vir die oormaat mense wat ons planeet nou stelselmatig stroop van alles wat hom aan die lewe hou.

As ek kon, sou ek jou gras plat getrap het. Die natuur veg terug, maar hy wankel, en ons gaan ’n ineenstorting nie oorleef nie.

(Met vergunning -- https://skrop.co.za/kortstories/ )