If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Doodsertifikaat

deur Johann Smith

P.E. Fourie: 1954/02/28 

Onmiddellike oorsaak: Nierversaking

Sekwensiële oorsaak: Onbeheersde Diabetes

Onderliggende oorsaak: SARS-Cov-2

Denver teken die dokument en oorhandig dit aan die verpleegster. Vandag is ’n besige dag. En ’n sombere dag vir ten minste drie families wat ’n geliefde verloor het.

Pasiënt Fourie was nie ’n verrassing nie. Sy niere het reeds ’n week gelede begin ingee. Selfs al sou die hospitaal ’n dialise-masjien beskikbaar gehad het, sou sy kanse steeds skraal gewees het. Uit ’n mediese oogpunt is die afsterwe van Pasiënt Fourie ’n perfekte voorbeeld van ’n oorsaak-en-gevolg. ’n Amper-gerusstellende wete dat die mediese wetenskap nog steeds in beheer is. Steeds kan voorspellings maak oor wie gaan oorleef en wie nie.

Maar Pasiënt Fourie was ’n mens.

 

Hy het geliefdes gehad. ’n Vrou wat daagliks moes skakel om te hoor hoe dit gaan. Wat mediese terme google om te verstaan wat haar man makeer. ’n Laaste gesprek met ’n WhatsApp Face Call wat ’n verpleegster vir hulle gereël het.

Roux: 1995/08/03 

Onmiddellike oorsaak: Longontsteking

Hy was nog nie eens vyf-en-twintig jaar oud nie. Hy’t ’n foto van sy verloofde in sy hempsak gehad.  Geen komorbiditeit nie. Op die oog af gesond. Net ongelukkig. Virusse diskrimineer nie.

Onderliggende oorsaak: SARS-Cov-2

Denver is geloof vir sy opoffering. Dit vat ’n spesiale tipe dokter om in die intensiewe eenheid van ’n hospitaal in ’n tyd soos hierdie te werk. Tog voel hy veiliger hier as by ’n praktyk. Die prosedures wat gevolg moet word is strenger as by enige kliniek of mediese sentrum. ’n Kollega het haar kliniek met die plaaslike winkelsentrum vergelyk: ontsmettingsmiddels en ’n chirurgiese masker. Haar simptome was matig. Soos die meeste gevalle waarvan Denver net hoor, maar nooit sien nie.

Dis amper middernag as Denver by die huis kom. Die luukse tweeslaapkamerwoonstel het geen gebrek aan ruimte nie. Hoewel die skoonmaker se dienste meer as ’n maand gelede gestaak is, lyk dit nie asof daar enigiemand in die woonstel woon nie. Vir Denver is dit bloot die plek waar hy slaap. Sy lewe is by die hospitaal.

Terwyl hy wag vir die mikrogolfete om gaar te word, dwaal sy gedagtes na die samesweringsteorieë wat die rondte gedoen het oor die gevare van die mikrogolfoond. Die 5G van die vorige eeu. Hy eet in stilte. Die bobotie is lekker. Ek moet dit weer koop. Sy oog vang ’n boekie met siekbriewe. Die tyd toe hy ’n gewone GP was. Eeue gelede.

Dokter Denver Griessel. Algemene Praktisyn.

Elke woord sorgvuldig gekies. Dokter vir geloofwaardigheid. Voornaam vir menslikheid. Griessel … sy enigste identiteit.

Die stilte raak skielik oorverdowend. Hy trek die boekie met ’n doelbewuste, harde sug nader en begin skribbel.

Dokter Denver Griessel: 1982/03/30

Hy dink aan ’n vrou wat mediese terme google sodat sy kan verstaan wat fout is met haar man. Sodat sy die pad saam met hom kan stap.

Onderliggende oorsaak: SARS-Cov-2

’n Meisie wie se foto verdwyn en in ’n verloofde se hempsak beland.

Onmiddellike oorsaak: Eensaamheid.

 

(Met vergunning -- https://skrop.co.za/kortstories/ )