Album van Gedigte
DOODSBLIK VAN ’n BOOM
stom staan jy starend
na grusame toneel
wat hom herhaaldelik
in jou skadu afspeel
seksueel aangerand
agter jou rug beide hand
vasgebind met leerlyfband
en stanksweet wat brand
hoor jou skrille gille
eggo vergeefs verlore
in vlakgraf word jy gelos
as aasvoëlkos
in hierdie verlate bos
my tenger takke treur
boomgomtrane drup
weer en weer en weer
soos my stam stukkend skeur
jou ganse lewe lê nog voor
tragies om dit nou te verloor
Here hoeveel keer
gaan dit nog hier gebeur
SKULD VEREFFEN
al skawend het Hy met kruis aangestap
wyl bloedstrome oor Sy wange aftap
doringkroon op Sy hoof neergegesit
sodat omstanders daaruit genot kon put
op Golgota word Hy gehys aan kruis
tussen twee sondaars aan wereld gewys
spykers deur hande en voete geslaan
stort Maria Magdalena soveelste traan
onuithoudbare pyn wat al dieper inkerf
het Hy met aangesig na Sy Vader gedraai
met die woorde “dit is volbring”
vleeslike dood aan die kruis gesterf
op derde dag het Hy opgestaan
voor hul uit na Galilea te gaan
daar het Hy elf dissipels meegedeel
gaan heen, vertel die wereld in geheel
aan die wat glo en hulle laat doop
sal Hy krag gee om wonder te vermag
ongelowiges word van waardigheid gestroop
verkondig evangelie dag na dag
Hy het ons sondeskuld met Sy bloed afgewas
met menslike liggaam peperduur betaal
sodat elk wat opreg vertrou en glo
nie verlore gaan maar ewige lewe haal
TERUG NA JOU WORTELS
Ossewa in D gekring
lofliedere tot God gesing
dissipline afgedwing
om eie grond meegeding
wie is jy nou vreemdeling
wie sit in jou binnekring
is jy ruggraatlose swakkeling
in Moederland nou banneling
meerderheid staan in sondekring
dood is reeds ontwikkeling
oorlewing raak 'n struweling
kulture word tot een gedwing
gaan jy saam die vuur inspring
sink jy maar as drenkeling
laat jou kniee jou dwing
om geloof terug te bring
slegs dan smaak jy oorwinning
JY HET DIT GEDOEN
jy het gewandel
deur gange van hart
in sandput van smart
giggelend geklou
hoë lugkastele gebou
jy het onthou
mooi herrinneringe
wat in prag volkleur staan
ingeryg soos skitterpêrels
langs eie wandelpad
jy het geluister
na stem van oseaan
as sy weemoedig stom
tog vreemd strelend
haar hiemwee lied golf
jy het geraak
aan dou van blom
sy diamantskitter
met vonkel in jou oog
aan my toevertrou
jy het geruik
aan lente van liefde
vroeë bloeisels gepluk
dit dan versigtig, sag
in my hare rangskik
EK GEE JOU
my oogend, middag en aand
’n glimlag vir bewaar
wanneer ons dan
herinneringe sag streel
saam in drome wegvaar
eensame koggelmander
versigtig gevang
getroetel en bewaar
sodat jy kan luister
na sy hartseer verhaal
aangemaakte sement
wat hartmure omsluit
om krake en skeure
dig toe te messel
indringers te stuit
smaak van heuningmond
as bewonderend staar
daarmee saam
geheim van my menswees
dat ons saam kan bewaar
opstaan, lief en leed
deel dit dan saam
om beide te weet
nooit ooit sal vergeet
waardeur vasbyt moes vreet
JOU WOORDE
wanneer kerslvam
kreunend kromtrek
flikkerbeelde
drog nadersluip
op riffels van koue
klipmuur dans
laat ek trane van vreugde
vrylik rondomtalie ontsnap
word dit in stortreën uitgetap
vloeiend verswelg
deur ru-vesel
in enkel vel papier
en hartseer van gister
vandag se drome
inhibeer- altereer
starend na flou lig
diep in liefdeskluis delf
sag jou wonderwoorde
ingedagte repeteer
GEE MY
Gee my genade, geduld
sonder strompel of struikel
hierdie heel laaste myl
op ellelange lewenspad
om enkel tree vir tree
in U genadebaan te gee
Gee my lewenslange lense
wys my U lig vir my voet
en U lamp vir my pad
ek wil waarneem en wandel
waar U kompas my vat
Gee my langdurige lugweë
teue vol aroma en geure
van U wonderskepping
en wees U my sielsgenoot
ek smeek om vrede en genade
onverdiend want U is groot
VERLORE
Aanhoudende kusse
liefderyk geplant
ooglede, wange
selfs sagkens op hand
Soos tintel van lou lippe
onverpoos voortbeweeg
tap uurglas spanning
binne enkel minute leeg
Gedagtes geraamtes
blaas asemhaal wind
as woorde akkoorde
deur oortonnel vind
Buite in bosveldnag
skree sonbesie se kind
elders op drywende lelie
het ‘n brulpadda
ook sy maat gevind
FRUSTRASIE
frustrasie vreet vurig
woorde sweepslag kloof
swaar gebukkend bewend
van menswaardigheid beroof
stadig sukkel skuifel
tien meter radius voort
grens om ogie te gooi
oor werkers in boord
met bloeiende hart
staar ek na haar
pofvoete reeds purper
protesteer swaar
positiewe woorde nou
gaan haar van moedverloor
se vlaktes weerhou
want tot wildevytjie deurboor
omgee is tog kosteloos
gratis verskaf om uit te deel
want simpel suikersiekte
maak sus swak en broos
BEWAAR DIT TEEN JOU HART
sprinkel silwer sterrestof
as jy langsaam lui wieg
in die buik van die maan
en blaas ’n liefdeskus
na waar ek wagtend staan
wanneer jy wenteldraai
verby snikhete son
gryp ‘n goudgeel straal
voeg agt grade Celsius
by my warm feëverhaal
skep ses sakke sand
by die blou onstuimig’ see
en soek die mooiste skulp
want as jy veilig terugkeer
sal ek gehoor daaraan gee
volg die geur en aroma
van seldsame orgidee
pluk dit sag versigtig
en bewaar dit teen jou hart
tot tyd en wyl jy self
dit in my hande kan gee
VRA MY NIE
Vra my nie
na verdraagsaamheid
dis in ‘n put gedompel
na ’n vreedsame land
se helse verdeeldheid
Vra my nie
na geduld en hoop
dit het verlore geraak
want ek is totaal kaal
van menswees gestroop
Vra my nie
geld of skatte wat blink
krummels word gevreet
neffens kerkmuis in spleet
want die bo-wêreld stink
Vra my wel
na vrede en geloof
want my lewenstou
is stewig geknoop
in die Hand van Hoop
en niemand maar niemand
kan my daarvan stroop
VIR JOU
wat niks ontsien
om my volkome
gelukkig te maak
op swewende vlerke
van wuiwende wind
aan elke wolk laat raak
jy vul my karige bestaan
met volle spektrum van kleur
skenk aan my aromas
vol liefde in jasmyngeur
stap of struikel saam
daagliks hand aan hand
huppelend, giggelend
oor berg, koppie en rant
jy verskaf aan my
oorweldigende hoop
en rede vir voortbestaan
vaal verlede kaalgestroop
koester my emmersvol
in sagte holte van jou arm
met oë rustig geslote
hou jou hartklop my warm
altyd slaggereed
om van lewensgevare
wyd weg te hou
wanneer jy beskermend
strelend in arms toevou
KON EK MAAR
kon ek maar
na ontoereikend ster
reik, ruk en pluk
uitbundig, vrolik
rondomtalie draai om maan
met walvis en dolfyne
in formasie swem in see
nie ‘n flenter omgee
of wereld sou vergaan
kon ek maar
Namakwaland se blomme
loop ruik en rangskik
sopnat deur reënwoud
sonder beskerming
na skaars spesie soek
dit sou meebring
rustigheid in gemoed
vrede, vrywees, geluk
maar nou is beide
in die stukkende
wereldweb gekoek
kon ek maar
soos branderplankryer
gevaarlikste golf op oseaan
onverskillig vrylik ry
dan uitgelate neerval
op warm sand van
bebosde eilandstrand
violetstrale op liggaam duld
met warmer liefdesband
kon ek maar
vader tyd se tik-tik wysers
noukerig, stadig terugdraai
uurglas sandkorrels
laat versteen in oomblik
van vrywees en geluk
of gaan die maan
se laaste lang straal
my hard en onwerklik
na aarde terugpluk
LEER MY OM LIEF TE Hê
myself te gee en ‘n bietjie meer
salf aan eina’s van gister te smeer
vir jou in holte van halfmaan te wag
waar ons liefies vir sterre skaterlag
leer my wag voor my mond
om te oordink, dan te praat
jou met gevleuelde woorde
te liefkoos, voorsien van raat
leer my arms om sag te vou
om elk’ bekende kontoer
van jou spierpaleis lyf
voor ek wilde hartklop
teen eie mure uitdryf
leer my om meer as lief te hê
aandagtig luister na wat jy sê
met oorgawe daagliks bemin
dis waar liefde mos begin
HORISON VRYHEID
pikswart perdepote
kap halfsirkels in sand
stomend' neusgate vleuel
in sy grynslag geen teuel
maanhare wapper in wind
ruiter raak weer kind
miljoene myl se mymering
verberg in stofwolk waas
kind en hings
smelt eensklaps saam
raak stil stippelklein
afgeêts teen rooibalgloed
snel ongestoord
op duet tog voort
as hul vry vol vrede
oor horison verdwyn
NET EEN MAAL NOG
net een maal nog
sou ek haar wou help
om yl haartjies saggies
om ‘n kruller te rol
net een maal nog
sal ek tjoepstil
op haar skoot loop sit
saam met haar bid
net een maal nog
kan ek haar skadu volg
lief, leed met haar deel
as sy trane wegstreel
net een maal nog
wil ek haar bitterseer
op my alleen neem
sodat sy ophou ween
maar berusting volkome
want Hy kyk na haar
elke dag, elke nag
laat Hy vreugde ervaar
op aarde vir haar nie beskore
sy sing nou in engelkore
VERGEWE MY
vergewe my
onbedagsaamheid
wanneer jy water vra
ek slegs sand aandra
vergewe my
selfsugtigheid
die son vir my te hou
terwyl jy in donker rou
vergewe my
onverdraagsaamheid
as dorings in vlees steek
my nuwe blare deurbreek
vergewe my
onnoselheid
in stede van plek te maak
ek jou kroonblare loop kraak
vergewe my
onbetrokkenheid
as jy alleen eenkant staan
ek nie met Tuinier Woord vermaan
vergewe my
wisselvalligheid
nie elke liewe dag
aan moedig met Groeikrag
vergewe my
negatiwiteit
oor blomtuin hoeka verlore
deur toeka se geslote ore
vergewe my nie
my realiteit
dat ek steeds knielend bid
God sy Tuinhand hier kom sit
SAL JY ONTHOU
as ek mettertyd vergeet
om jou bekende gelaat
duidelik te eien
strelende, helende
warm aanraking
skielik as dreigement
gevaarlik met afsku beskou
as my eens atletiese
ferm boustruktuur
goudbruin en seepglad
vel, lyf en gelaat
verander in skewe
kronkel padkaartjies
bruin oumakolletjies
jou angstig aangluur
as ek jarelange
troetelnaampie
nie in geheue kan herroep
want met dekades
het uitveër onverpoos
gewis en leeggemaak
byna elk denkbare groep
as ek kopknikkend
starend nikssiende
in verdrinkblou oë staar
sal jy my kreukelhand
stewig in joune verberg
my steeds beskerm
teen vreemde gevaar
ONTHOU ... JY IS
eerste doudruppel op lelieblaar
stewige anker in stormwind
tentseil wat my laat voortbeur
deur onweer, aanslae en onheil
die rots waarop ek vastrap
as my wankelvoete sou gly
kus van my oggendson
koelte in snikhete haatbrand
tarentaalkolletjies in my skets
irriterende brulpadda geklets
tog is jy in geheue afgeëets
jy is my hart se liefdespunt
my wappervaandel goedgesind
so kan jy maar lustig verslind
is ons nie tog saamgebind
’n DROOM OOR SUID-AFRIKA
ek droom van smerige gesiggies
op swaaie in groen speelparkies
waar oud-genoeg mamma’s
op veraf bankie duiwe sit en voer
môre se teeparty skertsend aanroer
ek droom van ’n land met oorgenoeg werk
vir gesinne om saam, rustig te eet
met geen diefwering of tralies
skertsend gesels oor more se dagtake
wegbreek van vierkant kassie se kake
ek droom van voete wat slegs vrede trap
lippe wat kan bid en sing van hoop
wanneer Afrika oor slagoffers rou
met howe gebuig, hande gevou
sal ons seer en droefheid onthou
ek droom van ‘n land wat God bedank
vir oorvloed geloofsbesitting
nie aan skitter wêreldsgoed kleef
slegs in Sy naam in vrede kan leef
na ware geloof en Woorddenke streef
WAT IS LIEFDE
sonstraal in eerste oggendsoengroet
koedoebul se trotse bloed
flikkerende aandlantern lig
suiwer melodie in vleiloerie gedig
weerkaats deur moeder natuur
in elk huppel van klein bokkie
reënboogkleure wat blomme uitstraal
elke struik skets sy eie verhaal
Skepper geskape bergpiek majestiek
bloureëndruppels uit Hemel emmer
deur Sy spookasemwolke opgevang
wanneer dit sag plons op wang
dis in kwagga se lawwe lag
in Rooiborshoutkapper se roep
dit klingel in rustige rivierstrome
weergalm in kriekies se drome
bowenal is dit daar vir ieder
om te gee en mildelik te neem
kyk na die olifant en die mier
laat jubelliefde daagliks seevier
EK KEN ’n PLEK
ek ken ’n plek waar bergtoppe
wolkekrabbers liefderyk soen
waar wynwingerde geswel pronk
tussen groen kranse en valleie
ek ken jakaranda perstapyt
wat betonreus sypaadjies verf
bosveld se unieke doringboom
met koedoe en kameel wat wei
ek ken lied van die oseaan
haar spoegskuim op strand
woestyn se rol wielspinnekop
en wit wrakke by Skedelkus
ek ken rommel van tromme
wat swanger donderweer roep
die reuk van regte reën
proe soet van doudruppels
ek hoor weeklaag van verlore volk
wie se dagbreek al flouer brand
in rug gesteek met eie verdiende dolk
ek ken nie meer die eens lieflike land
HAAR LAASTE LIED
Sing, sing jou laaste lied vir haar
sy, is met hierdie wereld klaar
vandat sy ‘n kindjie was
waai die seer en teëspoed teen haar vas
maar nou’s sy stil
want dis die Heer se wil
Gooi, gooi jou issues in ’n tas
trap, dit met kluite om haar vas
dan kan jy mos aanbeweeg
want haar stem is stil en haar plek is leeg
dis als verby, sy was moeg gestry
Met ‘n flenter hart en ‘n wese vol smart
het sy altyd almal bygestaan
en al wat sy in ruil verlang
is laat haar gees nou gaan
Los, los besware by die huis
sy, het gedra haar eie kruis
sy was altyd daar vir jou
al was die onweerswolke grou
maar dis verby
sy het klaar gely
Kyk, kyk na lysie op die gras
maar, druk haar kinders altyd vas
leer hul die genade ken
dat die lewe nie slegs gaan oor wen
maar steeds probeer
al is dit soms hoe seer
Met ‘n flenter hart en ‘n wese vol smart
het sy altyd almal bygestaan
en al wat sy in ruil verlang
is laat haar gees nou gaan
EK WONDER
ek wonder oor noodlottige implikasie
op oorbevolkte mensdom
as hemelkanale summier sluit
geen druppel reën van seën meer stort
ek wonder oor unieke prag
in reënboogkleure dansen in blomme
skielik vaal en onaantreklik vertoon
sal dit dan wees ons verdiende loon
ek wonder oor reuk van vars mis
stomend in krale,velde en kampe
vroegoggend stomend warm oprys
sonder reën word spesies uitgewis
ek wonder oor infrastruktuur
wat reeds meerendeels aarde bedek
hemelhoë betonoerwoude, stapelwonings
kontrakteurs noodgedwonge staak, onttrek
ek wonder oor wat ons kan doen
om gebeurtenis te probeer verhoed
in knielende, eerbiedige houding neer
gee aan Hom die glorie en al die eer
HERFSHARTE
soos moedernatuur
seisoenkalender blaai
so ook ons gevoelens
wat op-af skoppelmaai
soos droë bruin blare
ritselend breek, kraak
verander seisoene
in harte wat ontwaak
met aanvang van wind
wat blare een-een pluk
hul rondomtalie dartel
tot waar hul ‘n eie plek
in boomkoelte vind
vorm skilderkwas van natuur
helder ineengevlegde herfstapyt
verkleur rooi-geel na bruin
verloor verf sy kleur mettertyd
heelwat later deur krag en mag
deur hark gevorm in kosmoshoop
natuur eindelik kaalgestroop
van rooi,geel,groen en bruin
in ons binnehart se blomtuin
word op vaalgrys geloop
maar die heerlike lente
binne bereik net om draai
sorge, hartseer lank weggewaai
bot nuwe, mooie bloeisels sterk
wanneer Hy met ons binnetuin werk
LIED VAN DIE SEE
stille lied van die see
met heimwee in haar stem
het my saggies met sproeiwink
nader aan haar geroep
meganies en in tranewaas
het ek sonder versuim
kruipend nader gehaas
ek wou aandagtig sit en luister
na haar onheilspellend’ woord
gaan sy neurie oor die toekoms
of hartseerwals sonder akkoord
saggies in suiwer supraanstem
in my afwagtend’ oordrom fluister?
seewier om my enkels
groenslym gestrengel
gehurkend, afwagtend
op die stem van ‘n engel
slegs ritmies die huil
van eensaam moederdolfyn
proe ek ook trane in sout
soos my hart vir haar pyn
moeder oseaan
weerhou aspris haar lied
weet sy dalk meer
verberg in skeepswrak
en bruinspoeg op strand
of wil sy met stilswye
dalk moederlik keer
dat ek seerkry en my verbied
om die reeds wankelbrug
na my hart te verbrand
ELKE KEER
elke keer
as goue sleutel draai
in die horingou slot
van ons twee
se diggeslote deur
voer dit my mee
soos voorheen ook
meer as ’n duisend keer
na liefde daar geberg
as edelgesteente gestoor
meer waardevol
as kosbaar’ skittergoud
want male sonder tal
al is die geroeste gleuf
reeds krakerig en oud
draai die sleutel
om en om en kleef
aan soet herinnering
daarbinne saamgeweef
maak ek ons kissie
versigtig, met gevoel
stadig oop en dan
skitterlig wat daaruit straal
en die deuntjie wat
slegs vir ons twee draal
lig ek dit veerlig
en troetel tussen twee palms
liefde wat ek daaruit haal
plaas dit dan saggies
met ’n liefdeskus terug
tot volgende keer
wanneer ek weer
suutjies tonetrippel
oor hierdie wasembrug
om ons verskuilde skat
skitterend te voorskyn bring
tot dan en dan alleen
wanneer my heimwee hart
van volkome liefde sing
VRYVAL
flappende klappende
spikkel valkvlerke
lense sekuur vasgenael
op niksvermoedende prooi
dan tjoepstil maar blitsig
die wisselaksie
vaartbelyn veerpyl
klief deur die lug
vlymskerp kloue
soos kaak van draak
pen soogdier vas
in veld met geweld
kragtige snawel
verskeur en verslind
vou dan netjies
om sagte binnegoed
en in twee glasogies
weerspieël dood se gloed
BêRE DIE HEIMWEE
luister na die stille heimwee
as wind huilend deur blare fluit
aanskou die hartseerdruppels
teen my hartkamer se ruit
voel die trilling en tromme
in donder van weerligstraal
ruik dan skoongewaste blomme
wanneer skemer stadig neerdaal
STUURMAN
‘n kilogram teenstribbel
teen tonne waarheid
van Sy Woord bots
en hiper hoë oktaaf
wat ten hemele skree
word deur Sy kragfluister
gestil, met stomheid gevee
as vol konka sonde
druppelsgewys spat
plotsend neerplons
in Sy see van genade
stil die ewige honger
deur Genadebrood ontvang
luister in eerbied
as Skepperstem praat
want Hy sien alles raak
as ons nederig kyk na Bo
wanneer paaie krom kronkel
trek Hy met Vadershand
dit liefderyk gelyk
want Hy is Stuurman
solank ons opreg glo
SONDER
sonder silwerrand van elk donker wolk
heldergeel hittestrale van bloedige son
sal lewens rondomtalie in duister paaie kolk
sonder kleurvolle verfkwas wat natuur aanwend
sal plante, organismes in grysgrou verdor
hierdie prag en praal sal wees – onbekend
sonder wind wat golwend oor oseaan dans
tollend, malend soutsproei oor rotse spoeg
sou dit verdwyn - vir ons geen enkele kans
sonder rowwe skurfheid van doringboomstam
bedek in heldergroen, sambreeldak dorings vlymskerp
met suurstofryke verdwyning word lewens verlam
sonder reëndruppels uit Skepper se wolkebeker blou
wat stikstofbelaaid- mens, plant, dierdors moet les
gaan hoofbron in vleeslike liggaaam verflou
sonder knieë wat buig, vertrou, hoop en glo
sal ook ons helderskynde lewenskersies
mettertyd uitdoof slegs ‘n swart rokie na bo
KLONKIE
smorens nog lank voor son ontwaak
berei klonkie hom voor
vir sy daaglikse taak
in ‘n kommetjie word dit vinnig gewas
en met glansjellie oor lyf gesmeer
maak hy vellies se veters vas
ou flenter vilthoed word op kop geprop
koerant, twakkie en houer snuif
in sy gelapte broeksak gestop
geel erdehouer wat se deksel styf pas
in sy roes boepens sit suurpap
se smaak en reuk stewig vas
so beweeg hy fluitend en flink na kraal
al langs sy uitgetrapte voetpad
om kudde skaap vir dag te loop haal
NEEM DIT
ek gee jou ‘n reënboog
om jou grysgrou dag te kleur
en daarby kom seer en pyn
sodat kleinste vreugdes
lewensgroot mag vertoon
ek gee jou volslae verlies
al sou jy dit nie so verkies
om goed te deurdenk
hoeveel jy steeds besit
en dankbaar daaroor wees
ek gee jou ‘n soengroet
van al jou hegte vriende
en wanneer die tyd
noodgedwonge aanbreek
om vir oulaas totsiens te sê
sal hierdie helder soengroet
vars in geheue bly lê
WINTERASEM
’n maanligstraal
het jou pad belig
en teen jou vel
rein soos porselein
dit terugweerkaats
in jou stram gesig
kalmte het sagkens
veerlig neergedaal
soos son en waters
mekaar ontmoet
sielswater so rein
wat krake heel en stop
het jou hartseer illusie
vinnig weggeraap
in verbale vlae
van wind weggedra
soos winterasem
wat in lug verdwyn
in snikhete hitte
van dorre woestyn
KOELTE
geanker in die Bosveld
pronk jou volkleurprag
en getooi in duisend blomme
die geelgoud van son in jou drag
bied jy lawende koelte
op ’n warm snikhete dag
en so herwin ons daagliks
kosbaar lewenskrag
met jou skurwe donker bas
en wit doringwapens
drup jou eie hartseer gom
oor ’n stam lank reeds krom
JY IS DIT ALLES
die aanvang en slot
in my lewensverhaal
my anker teen stormwind
my kloppende hart se punt
eerste skitter doudruppel
wat lelie se dors les
vroeë kuis kus daagliks
van die goue oggendson
jy is soos ’n heuninglied
stroopsoet in my oor
wanneer ek telkens
tred met samelewing
hopeloos wil verloor
KONKAAF REFLEKSIE
grysgroen oë staar terug
uit die konkaaf van ’n spieël
ek merk bekende glinster
en hoor die skaam, skugter lag
staar na sagte, skewe strate
wat lewenspotlood skets
en wasem verberg veilig
venster na vodde flentersiel
ons deel gesamentlik
in vreugde, smart en pyn
hoor naderende donder
en sing as son skitterskyn
ek ken jou gedagtes
en jou grysgrou gewete
onthou mooie herrinnering
van drome lank reeds vergete
STRAATKIND
vuil en met stank
nader jy gebukkend
en smeekbedel halfhartig
om ‘n aalmoes of twee
’n jong verlore seun
skaars halfpad man
huiwer jou lewe klaar
deur doodsvirus
wat in jou are opgaar
waar is jou ma en pa
wat jou haweloos laat
om hier te kom smeek
in ‘n besige straat
is hul nog bewus van jou
of het hul ook aanbeweeg
na virus se hellesteeg
of kyk hul slegs anderpad
na waar rykom hul vat
LEWENSSTORM
hoor die skrille heimwee
as stormwind huilend
deur dorre blare fluit
aanskou hartseerdruppels
teen koue hartkamerruit
voel trilling van tromme
in donder wat aanrol
en 'n enkel bliksemstraal
as aardse elemente verlig
en dan waai rukwind na more
ruik nou skoongewaste blomme
wanneer skemer skielik kalm
stil sluipend naderkruip
GAAN VIR GOUD
vang hierdie mot
voor hy dwaas en blind
sy fladdervlerke
in kersvlam verslind
hang hoog halflyf
oor gevaarlike krans
tot kloof se wind
in jou kuif kom dans
jaag vir bloukopkoggelmander
en streel sy growwe kop
luister na brulpaddakoor
tot net duskant sonop
voel ronde rivierklippe
jou voetsole masseer
en drink uit helder fontein
naby die berg of meer
klouter aapvoet op
in die hoogste boom
staar na die horison
en droom jou droom
HERINNERINGE IN GOUD
hierdie skoene het honderd betekenisvolle myle gestap
in dik bosveldsand skerp kameeldoring flenters getrap
agter die vierdraaihoring koedoebul aan
oor skerp klippe en rotse is sole erg verweer
selfs op een plek die bruin sagte leer geskeur
om stroopsoet druppende heuning uit te haal
deur strome gly-gly met visstok in die hand
opsoek na glibberige pienkgevlekte kalant
om voedsame, smaakvolle dis te voorsien
op jakarandapers kombers lank stilgestaan
wagtend tot aromatiese geur sy weg oopbaan
magiese natuurskoon met deernis bewonder
teen geroeste hortjies van windpompleer op
wat in windstilte kierie-kierie kreunend stop
om later weer omwenteling te herhaal
langs Skedelkus se helse vuurwarm sand beweeg
met spierwit beendere en skeepswrakke nou leeg
verberg hul stil die geheim van gebeure
hierdie skoene hoewel op, voos, flenters en oud
gaan opgehang word in herinneringe met goud
BITTERBESSIE BELOFTES
bitterbessie beloftes
in ’n laning in ’n ry
word gepluk, gestroop
onge-orden gestapel
op vuurwa van hoop
onnet onbeplan
in grys sakke verseël
om aan oorversadigde
emosievolle mark
wild en wakker
voetstoots uit te deel
sou jy dan besluit
om dit spotgoedkoop
in ontvangs te neem
weet vir ‘n feit
jou totale menswees
word kaalgestroo
MY DIGTERSBEKER
eens sterk vloeiend’ bloed
van digtersink het verdamp
verlore geraak tussen sterre
en blomgeur’ se jasmynsoet
skêre van gister se onthou
het geheuebank kortgeknip
woorde warrel woes en wild
in ’n saamgekoekte web
tydelik nou saamgevou
geluide bly hol afwesig
en stene van denkmure
voel brokkelend broos
as dit fyn verkrummel
en neerplof in ’n misstof
letterloos, klankloos op papier
DIEPE DELF
jou sekelmaan glimlag
en ondeunde sterre
wat polka om pupille
bring goudgeel prag
in eens droewige dag
en piesangtros hande
se gebaretaal praat
met lettergreep vingers
van ’n ou-ou verhaal
word weer uitgegrou
worteldiep opgedelf
uit vergete verlede
geliaseerde beelde
word na oppervlak gehys
om glimlag te ontlok
en hartritmes
reëlmatig te rys