Leë Huis
skoensole op geelhoutplanke
hoor mens lankal nie meer
verbleikte muurpapier
verdoesel diep krake
kerswas traandruppels
spikkel hier en daar
op houtkwaste van vloer
en spinnerakke wieg
in stofhoeke van ruite
sonlig syfer deur skeure
en die wind fluit ’n deuntjie
deur spleet van skrefiedeure
wat skeef hang en kreun
aan geroesde skarniere
watter wese het hier gewoon
een met geloof en grasieus
of iemand met geheime
en dalk liefdeloos alleen