Ouma
So sit sy daar – verwese en geboë –
die skouers stram en krom
gedagtes yl en dom
en wasig haar sagte blou oë.
Ontdaan van skoonheid en polsende lewe
vergete, verlaat en alleen
net die stilte wat sing in haar ore
en die ou hande wat effentjies bewe.
So wag sy op ‘n engel
om haar op die laaste reis te rig
toe stadig, in ‘n vreemde, helder oomblik
voor haar verskyn – in wit – die Lig.
Sy prewel saggies: “Meester, ek is reg”
en toe is sy weg.