Vrou
Oor eeue uit die vêr verlee
staar skimme ons aan
soos oor ‘n mistig-wasige see
van geslagte heengegaan –
net skimme nou van die ewige, tydlose, naamlose vrou
wat telkens weer die eie ek verloën
om pynverwronge, met bloed en sweet
nogeens met angs ‘n skoon
klein mensie aan die wêreld uit te meet.
Sy, moeder wat baar,
dra die lewe, wasdom, groei,
soos die goeie aarde saad vir nuwe wording
diep, diep binne haar
sodat deur haar vlees
die mensdom vol en sterk mag wees.