Somerdrome
Maande voor die winter kom
staan jy in wit en rooi en swart
teen skemer in ‘n deur se raam
en stap glimlaggend deur my hart
tot waar ek in verrukking weet
hier smelt twee paaie saam.
Nou, na al ons lag en speel en drome
fluister ek in sterlignagte
my gedagtes aan die donker bome
en jy raak weer liggies aan my hare en hande
soos soveel keer tevore.
Maar soggens as die vinke in die vleie kwetter
en die kelkiewyn sy deuntjie fluit
basuin hul luidkeels in die sonlig
my verlange aan die wêreld uit.
Tog, as ek eendag peinsend my dae slyt
sal steeds, in die lig wat taan,
jou beeld nog helder voor my oë staan.