Rietfontein (I.D. du Plessis)
By Rietfontein se leidam, as die reier staan en droom,
En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel oor die stroom,
Word op maanverligte nagte nog ‘n sombere tafereel
Van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel.
Wit is die water
En blond is die maan,
En bly is die paar
Wat gearmd daar gaan,
Versilwerde bome
Ruis in die laan;
Wit is die water
En blond is die maan.
‘n Honderd jaar gelede het die buurt se mooiste blom
So in die helder maanlig na die peerboomlaan gekom;
Maar terwyl sy en haar minnaar in confettie-bloeisels staan,
Het ‘n ander in die skaduwee langs die dam se wal gegaan.
Wit is die water
En bleek is die maan,
Wie is dit wat daar so
Geruisloos gaan?
‘n Huiwering trek
Deur die bome in die laan;
Wit is die water
En bleek is die maan.
O salig die verrukking wat die suiwere liefde bring,
En vrolik het die harte van die paartjie daar gesing
By Rietfontein se leidam, in die wit lig van die maan;
Maar oorkant langs die peerboom het ‘n skaduwee gegaan.
Wit is die water
Maar bleker die maan,
Wie is dit wat daar so
Doelbewus gaan?
Verdonkerde bome
Bewe in die laan;
Wit is die water
Maar bleker die maan.
Kortstondig soos die dou wat smôrens skitter op die roos,
Kortstondig was die enkel uur van samesyn se troos,
Op bloedbevlekte bloeisels lê die paartjie in die laan,
Terwyl ‘n swart gestalte onder peerboomtakke staan.
Bloed in die water
En bloed in die laan,
Wie is dit wat daar so
Roerloos bly staan?
Vormlose skaduwees
Kruip oor die maan;
Bloed in die water
En bloed in die laan.
By Rietfontein se leidam, as die reier staan en droom,
En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel oor die stroom,
Word op maan-verligte nagte nog ‘n sombere tafereel
Van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel.
Bloed in die water
En bloed in die laan,
Wie is dit wat daar so
Skuldbewus gaan?
Vormlose skaduwees
Kruip oor die maan;
Bloed in die water
En bloed in die laan.
~ I.D du Plessis