Fuga in swart
na "Todesfuge", Paul Celan
swart melk drink ons elke dag
verstik in die beker van mond tot mond
grou die dooier van die maan elke nag
soggens verskril die son tot ’n klag
roet en as grys neer na die grond
swart melk drink ons elke dag
die dag skrikkel tot laat in die middag
’n brandsiek hond wat lek aan sy wond
grou die dooier van die maan elke nag
vergete die klank van kinders wat lag
die gestrikte haarlokke bruin en blond
swart melk drink ons elke dag
hoe lank moet ons nog wag?
het Hy vergeet van ons verbond?
swart melk drink ons elke dag
dood die dooier van die maan elke nag