If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Soos Ou Silwer

Nou dat jy by my is
verlang ek na wat voor is –
na aande van rooskwarts en satyn
en wat soos egte pêrels
dofweg in die lamplig skyn.
 
 
Na dae oop en helder
soos rose na die reën.
Na middae met die glans van koper,  
en teen skemer soos ou silwer.
Na nagte van swart fluweel –
innig, eg en warm.
 
 
Dat ons gereed kan kom
om stil en onbevange met die roep van name  
op te staan voor Hom.