If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Bestemming

Ek  sal  hier  opstaan  en  ek  sal  na  my geboortegrond gaan.
Na waar ek die eerste keer die lig gesien het.

Na waar ek ‘n klein seuntjie was.  Na al die skaduplekkies waar  ek  onder  die Kameeldorings met  die  groot  silwer peule gespeel het.  Na waar ek my eerste koedoe geskiet het  –  en  na my  ouerhuis  – waar  liefde my  voedsel  en kleding was en sekuriteit ‘n warm winterkaros.

Ek  het  my  lewe  gelééf,  sonder  huiwering,  met waagmoed,  ywer  en  oorgawe.   Ek  het  my  klein oomblikkies van glorie gehad en my teleurstellings.  Ek het wys genoeg geword om te besef hoe min ek werklik weet.  Ek het baie dinge nie verstaan nie, maar ek het
die genade van geloof ontvang en dit behou.

En  nou  laat  ek  stakings  en  sirenes,  oproer, kapings, koeëls en korrupsie agter en ek strek my, soos Paulus, uit na wat voor is.

Na  waarheid,  na  wat  eg  is  en  suiwer.   Na  ‘n eensame vuurtjie in die veld. Na die reuk van die grond en gras na die reën.

Sonop sal ek die kiewietnes weer sien en teen die late  die  tarentale  wanneer  hulle  vir  die  nag  kom skuiling soek.

Ek gaan my kalwers  tel en die versies merk, die wind oor my  rug voel en die son op my skouers en ek sal, asof vir die eerste keer, die wolke weer  regtig sien en  snags  die  haelwit  sterre  van  die  Suiderkruis  saam met die maan oor die uitspansel sien skuif.  Ek sal die reën ruik as die wind my tentflappe roer.

Nou gaan ek luister hoe Leipoldt, van Wyk Louw en Watermeyer dit gesê het.  Ek gaan hoor wat Mozart en Vivaldi, Beethoven en Bizet gehoor het.  Pavarotti en Carreras,  Sarah  Brightman  en Mimi  Coertze  gaan  vir my sing en die Hallelujakoor uit die “Messias” gaan my opnuut met ontsag my oë  laat  sluit.  Teen  skemer  sal
die viool, harp en orrel my  laat wonder oor die musiek in die sfere van die ruim.  Middernag sal die uil se roep en die jakkals se huil die nag nog stiller laat.

Ek  gaan  in my  gemoed  vrede maak met  elkeen wat vir my ‘n struikelblok was en met elkeen vir wie ek dit was.

Dan  gaan  ek met my  Skepper  praat.   Ek  gaan Hom dank vir my ouers en my kinders en my lewe.  Ek gaan  by  Hom  intree  vir my mense  en my  volk  en  vir elkeen wat sy Naam aanroep.  Ek gaan voor Hom bely wat  ek  verbrou  het  en  dat  ek  Hom  so  dikwels
teleurgestel het en ek gaan Hom vra om my nogeens te begenadig en in deernis aan te sien.

Dan  sal  ek  vrede  ken  en  gereed  wees  vir  die eerste treë van die laaste reis na die Groot Bestemming.