If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Om Te Weet

 Dis goed om te weet as ek weg is die maan nog sal seil
deur die wolke en nanag in die donker ragwerk van die
wilgers skuil.
  Die  lentereens  sal  nog  salwend  oor  die  rante
stuif  en  volle  lewe  na  die  vlakte  bring.   Langs  ‘n
rooiduin  sal  ‘n  duikerooi  haar  oortjies  vir  die  veraf
onweer spits en sonbesies die middaghitte binnesing.
 Somers sal die  rose  rank en die uile broei en  in
die  herfs  die  populiere  soos  goue  torings  teen  die
sonsondergang  staan.   Die  jasmyn  sal  haar  geur  nog
sprei en die skoonheid nog woon  in kleur en klank,  in
woord en lied, vir wie wil hoor en sien en voel.
Die liefde sal nog blom en trou beloof word – met
‘n kaartjie in ‘n bossie blomme.  Kleuters sal nog lag en
speel,  die  jonges  na  die  toekoms  reik  en  die  oues  na
wat verby is terugverlang.
  Die  donker  dieptes  van  die  see  sal  sy  geheime
nog bewaar en dit is goed so – want die mens moet nie
alles weet nie.  Die misterie  van die  sel  en die geheim
van lewe self, wat heilig is, moet steeds bly.  Daar moet
nog musiek  en  prosa  en  gewaarwordinge wees wat  so
diep  tref  dat  dit  ‘n  knop  in  jou  keel  bring  en  jou  oë
wasig maak.
Dis  goed  om  te weet  as  alles  verby  is  die  hoop
nog sal lewe en die geloof nog sal hou – in die ewige en
Onsienlike.  Hy sal hoorbaar wees in die veraf dreuning
van die branders  en  die nabye  flitsende blitse.   In die
ruising van die aandwind sal sy Gees voelbaar wees.
In die Boland sal die aronskelke winters steeds wit in
die vleie staan.  Dit alles is  goed om te weet voor die
mens op sy laaste lang reis gaan.