If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Gevlug van Begrip

Dis voorwaar 'n eer.
Ek weet.
Natuurlik ook begeerlik
en vleiend, die dag as ander met ontsag
en bewondering in jou rigting kyk,
en ek een sien wat fluister,
"Hy's skerp -- vlug van begrip!"

Ag wat, dit spyt my,
in nederige ordentlikheid moet ek beken,
dié lof is snertwaardig.
Want sien, diep in my sieleswese
was daar 'n een of ander ongeluk,
soos 'n klein ontploffinkie,
toe 'n entoejawatsie —
'n kop-aan-kop breinselbotsinkie.

Dis soortvan wat ek dink gebeur het,
en die impak daarvan het my hele wese
geskut, dat wat ook al ek nog wou sê
skielik nie meer daar was nie.
Die flinke gladdebek ek, staar toe ewe
woordeloos — gevlug van begrip.
Want wat moes wees
was daar nie meer nie!
Dis al.

Dit het my ongedaan gelaat,
my onkant gevang
en die enigste skerp skuif van my kant
was, toe ek met 'n skamerige glimlag
myself bevraagtekenswaardig verskoon het.

Nou ja, oor die entoejawatsies
hoor ek onlangs by Oom Jopie September
dat ou mense deskundiges is
oor die goeters.
Uit sy verlede vertel hy van sy ervaring met
die gesegde 'vlug van begrip'.
Wat ek toe hoor het my ontstel,
want glo is dié botsinkies iets wat hulle gereeld beleef,
en nie eens meer daaroor aarsel of stuikel nie,
maar kan voortgaan sonder huiwer.
Toe ek dit hoor, het ek besef, om
dit te kan doen verg iemand wat
voorwaar vlug van begrip is.

Dus maak ek reg om ook daardie
vaardighede aan te leer,
want, so sê oom Jopie,
as jy dié nie kan doen nie, sien
dan word jy soos Tant Nillie.
Sy's nou een die gevlug van begriptes,
leef nou permanent in
die land van en-toe-ja-watsies.