If you have javascript turned off you may have problems accessing the (pulldown) menu on this site. If this is the case, you may access all the pages through the "Sitemap" which can be found on the top right of each single page. Thank you!

Prins Frikkie vang Vis

Dis 'n vreeslike mooi dag vandag.  Die voëltjies kwetter in die bome van die kasteel se tuin, en die oranje visse swem lui-lui in koningin se visdammetjie voor die voordeur.  Hoog bo in die blou lug dryf wit wolkies verby, en vir Prins Frikkie lyk dit net soos spookasem.  Hy sit op die kasteel se stoep en kyk op in die lug.

"Wat gaan jy vandag maak, Prins Frikkie?" vra Sonja die diensmeisie, terwyl sy die glas van die vensters blink vryf.

Prins Frikkie dink en dink.  Dan weet hy skielik!
"Ek gaan visvang in die groot dam," sê hy en staan op.

"Maar is jy nie nog so 'n bietjie klein om alleen by die groot dam te gaan visvang nie?" vra Sonja.

"Glad nie," sê Prins Frikkie en stoot sy borsie uit. "Die koning het net laas week gesê ek is nou al groot genoeg om alleen te gaan vang."

"Maar hoe gaan jy die aas aan die hoekie sit, Prins Frikkie?" vra Sonja weer. "Is jy nie so 'n bietjie kleinerig vir aas aansit nie?"

"Nie ek nie," sê Prins Frikkie. "Ek het mooi gekyk wat die koning doen.  Ek kan self aas aansit, EN die lyn in die water ingooi.  En ek kan self die blink visse uittrek – sulke groot, groot, GROOT blink visse, Sonja!"

En voordat die diensmeisie nog iets kon sê, draf Prins Frikkie weg om sy nuwe visstok te gaan haal.  Hy is nou sommer baie opgewonde!  Dit sal die heel eerste keer wees dat hy alleen gaan visvang – sonder die koning en sonder sy groot nefies.

Prins Frikkie vat sy rooi visstokkie, sy blou visnetjie, en sy blik-emmertjie.  Dan sit sy rugsakkie op sy rug, vat sy visgoed, en stap deur die kasteel se tuin, onder deur die bome, bo-oor die eerste rantjie, en al met die voetpaadjie langs na die groot, blink dam.

By die dam trek Prins Frikkie sy skoene uit, en soek in die vlak water onder die plat klippies na klein krappies wat hy vir aas kan gebruik.  Dis maklik, en sommer gou-gou is sy emmertjie vol aas.  Hy sit bietjie aas aan die hoekie van sy visstok – versigtig, versigtig soos die koning hom gewys het, en gooi dan met 'n lang swiesh! geluid sy lyntjie in die blink water.  Nou is hy reg om groot visse te vang!

"As ek 'n groot, blink vis vang," dink Prins Frikkie, "gaan ek vir die koningin vra om dit te bak op die stoof, en dan gaan ons almal vanaand daarvan eet!"

Prins Frikkie lek sommer sy lippe af.  O, hy is baie lief vir vis!

Maar wag!  Wat gebeur nou?  Iets daar onder die water het nou net aan sy lyntjie kom pluk! Prins Frikkie staan doodstil, stiller as 'n muis, en hou sy asem op.  En ja, daar is dit weer!  Pluk-pluk! pluk die ding onder die water aan sy vislyntjie.

Vinnig-vinnig en baie opgewonde begin Prins Frikkie die lyn inkatrol.  Die punt van sy rooi visstokkie buig krom, en die ding aan die hoekie kom al hoe nader.  Wat sal dit wees? wonder Prins Frikkie. 'n Vet vis of 'n plat vis of 'n lang vis of 'n ronde vis?

Maar o aarde! Toe Prins Frikkie die lyntjie inkatrol het, is daar nie 'n vis aan die hoek nie.  O nee.  Aan die punt van sy lyntjie, aan sy hoekie gehaak, is 'n stukkende, nat ou skoen!

"’n Skoen!"  roep Prins Frikkie opgewonde. "Dis nou 'n gelukkie!  Nog nooit ooit het ek gehoor van iemand wat 'n skoen gevang het nie."

Hy maak die skoen los van die hoekie, en skud dit dat die water spat.  Dan sit hy dit eenkant op 'n plat klip in die son om droog te word.  Prins Frikkie sit nuwe aas aan sy hoekie en gooi weer die lyntjie met 'n lang swiesh! in die blink water van die dam.

"Dalk kan ek die ander skoen ook vang," dink Prins Frikkie. "Dan kan ek die skoene vir Groot Koos, die tuinier gee.  Dit sal aan sy voete pas en hy sal vreeslik bly wees!"

Maar wat gebeur nou?  Iets daar onder die water het nou net weer aan sy lyntjie kom trek-trek!  Prins Frikkie staan doodstil en hou sy asem op.  En ja, daar is dit sowaar weer!  Trek-trek, maak die ding onder die water, en die puntjie van sy rooi visstokkie buig-buig na die water toe.

Prins Frikkie is baie opgewonde!  Hy katrol die lyntjie vinnig in.  Hy wonder of dit weer 'n skoen is aan sy hoekie, of dalk 'n groot vis vir die pan.  Maar toe Prins Frikkie die lyntjie inkatrol het, is daar nie 'n skoen of 'n vis aan die hoek nie.  Hy trek sy asem in, want aan sy hoekie sit 'n fietswiel vas!  'n Groot, ronde, blink wiel met speke.

"Wow!" roep Prins Frikkie opgewonde. "’n Regte egte fiets se wiel!  Dis nou 'n gelukkie!  Nou het ek 'n ekstra wiel vir wanneer my eie fiets se wiel dalk pap word."

Hy haak die fietswiel van die hoekie af, en sit dit in die lang gras om droog te word.  Hy is nou sommer baie opgewonde.  Sê nou maar net hy kan nog 'n wiel vang?  Of beter nog, 'n hele fiets!  Sal dit nie wonderlik wees nie?  Hy is darem baie bly dat hy vandag kom visvang het!

Vinnig sit Prins Frikkie nuwe aas aan die hoekie, en gooi die lyntjie weer met 'n lang swiesh! geluid in die blink water in.  Nou gaan sit hy op 'n klip en wag.  Alles is stil.  Die paddas kwaak in die riete en so nou en dan tik 'n naaldekoker teen die water en maak groot sirkels wat al wyer word.  Prins Frikkie gaap 'n lang gaap.  Die sonnetjie maak hom nou sommer lekker vaak.

Maar wag, wat is dit nou?  Verbeel hy hom, of het iets nou net aan sy lyntjie kom roer?  Hy sit regop, en hou sy asem op.  Ja, daar is dit sowaar weer!  Iets daar onder die water kom roer-roer aan sy lyntjie!

Vinnig begin Prins Frikkie inkatrol.  Sy hartjie klop sommer woes!  Wat gaan hy hierdie keer vang?  'n Fiets of 'n skoen of 'n vis? Hy katrol en katrol, en uiteindelik gaan hy sien wat dit is!  Dis nou vir jou vreemd, want aan Prins Frikkie se hoekie is 'n kleinerige voëlkoutjie vasgehak, 'n hokkie met 'n deurtjie wat oop en toe kan maak.

Prins Frikkie frons.  Wat moet hy nou met 'n voëlhokkie maak?  Dalk moet hy dit maar weer teruggooi in die water sodat iemand anders dit kan vang.  Iemand wat graag 'n klein voëltjie wil hê wat hy in 'n hokkie kan sit.  Maar dan besluit Prins Frikkie tog om die hokkie maar saam te neem huis toe.  Dalk kan hy sy speelgoedmannetjies daarin bêre.  Dit IS 'n baie mooi, blinkerige hokkie.

Die son begin sak en die windjie raak koud.  SKielik is Prins Frikkie nie meer lus vir visvang nie.  Hy wil liewer teruggaan na die kasteel toe en gaan kyk wat die koningin vir aandete maak.  Sy magie grom van die honger, en hy het niks vis gevang nie.

Prins Frikkie wat sy visstokkie en sy emmertjie.  Hy tel die skoen en die fietswiel en die hokkie op, en begin aanstap met die voetpaadjie langs na die kasteel toe.

Toe Prins Frikkie 'n entjie geloop het, kom hy by 'n man wat langs die paadjie sit en rus.  Die man groet vir Prins Frikkie en wys na die skoen wat hy saamdra.

"Kan ek nie daardie skoen wat jy het kry nie?" vra die man. "Ek het gaan visvang, en toe het my een skoen se sool geskeur.  Ek moet by die huis kom, maar die dorings maak my seer."

Prins Frikkie gee vir die man die skoen wat hy gevang het, en die man trek dit dadelik aan.  Dit pas! Die man is so bly dat hy vir Prins Frikkie ook iets wil gee.  Hy haal 'n groot blink vis uit sy rugsak en gee dit vir die prinsie.

"Ek het die vis vandag gevang," sê hy. "Jy kan dit maar kry in ruil vir die skoen."

Dis 'n baie mooi vis!  Prins Frikkie sit die vis in sy rugsakkie, groet die man, en stap verder aan kasteel toe.  'n Entjie verder in die paadjie af stap hy verby 'n man wat 'n waentjie stoot.  Die man groet Prins Frikkie en wys dan na die fietswiel wat hy dra.

"Wil jy nie vir my daardie wiel gee nie?" vra die man. "Ek het heeldag visgevang en nou het een van die waentjie se wiele op die klippe gekraak.  Ek sukkel my gedaan om die ding gestoot te kry.  Ek sal dit by jou ruil vir een van die visse wat ek vandag gevang het."
Prins Frikkie gee vir die man die fietswiel.  Die man is baie in sy skik en sit dit dadelik aan sy waentjie.  Dan gee hy vir Prins Frikkie 'n groot vet vis uit sy sak.  Dis 'n baie mooi vis!  Prins Frikkie sit dit in sy rugsakkie, groet die man, en stap verder aan kasteel toe.

Maar voordat Prins Frikkie by die hoë bome rondom die kasteel kom, roep iemand hom.  Dis 'n man wat eenkant op 'n stomp sit, met iets wat wriemel en wikkel tussen sy twee, groot hande.

"Ag gee tog vir my daardie voëlhokkie wat jy daar het?" roep die man. "Ek het hierdie oulike streepmuisie vir my dogtertjie gevang, en nou soek ek iets om dit in te sit.  Ek het heeldag visgevang by die dam, en ek sal dit by jou ruil vir die grootste vis in my rugsak."

Prins Frikkie stap nader en gee vir die man die hokkie.  Hy kyk hoe die man sy hande oopmaak, en die oulikste klein streepmuisie in die hokkie sit.  Hy maak die deurtjie toe, en haal dan vir Prins Frikkie 'n baie groot, baie lang vis uit sy sak.

Nou is Prins Frikkie se rugsakkie sommer swaar van die vis!  Dis al laterig toe hy by die kasteel kom.  Sonja, die diensmeisie is nog op die stoep besig.

"Nou toe, Prins Frikkie," roep sy. "wys bietjie wat het jy gevang vandag?"

Prins Frikkie haal die vet vis en die groot blink vis en die yslike lang vis uit sy rugsakkie, en Sonja se mond gaan verbaas oop!
"Haai, het jy regtig daardie drie pragtige visse vandag gevang?" vra sy. "Sommer so op jou eie?"

Prins Frikkie trek sy skouers op, glimlag baie groot en sê dan:
"Ek kan nie vir seker sê nie, maar ek dink amper beslis so.  Dalk was dit so, en dalk nie, maar baie amper miskien.  Maar nie dadelik aan die begin nie.  Eers oppad huistoe."

En voordat Sonja nog iets kon sê, glip Prins Frikkie by die kasteel se deure in om sy hande te gaan was.  En daardie aand het almal in die kasteel van die heerlike gebakte vis geëet.

(Note: If you purchase the stories, this transcription does not come with the audio.)